Skip to main content

Psalm 7:1-10

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid bid hier om uitkoms van onregverdige vervolging, veral van die Benjaminiete wat Saul ondersteun het. Hy soek by die Here sy God beskerming teen die mense wat hom vervolg. Let op dat hy pleit beide op grond van sy eie onskuld – as hy iets verkeerds gedoen het, sal hy die vervolging aanvaar (Ps. 7:4-6) – as op grond van God se karakter – God is regverdig (Ps. 7:7). Hy vra dat God sal optree teen die verwoede aanslag teen hom en sal bevind dat hy wat Dawid in die reg is.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van Kus, ’n Benjaminiet. Here my God, ek soek u beskerming. Red my van al my vervolgers, red my! Anders sal hulle my toetakel soos ’n leeu, my in stukke skeur sonder dat iemand my red. Here my God, as ek iets verkeerds gedoen het, as ek skuldig is aan onreg, as ek ’n vriend van my verraai het, my vyand sonder rede beroof het, laat my vyande my agtervolg en vang, my in die grond in vertrap, my eer tot in die stof verneder. Sela Staan op, Here, in u toorn! Tree op teen my vyande se woede! Kom tot aksie, my God! Laat u geregtigheid seëvier! Laat die nasies om U versamel. Sit op u troon, ver bo hulle verhewe. Here, U wat regspreek oor die volke, oordeel my, Here, volgens my regverdigheid en in die lig van my onskuld. Regverdige God wat gedagtes en gevoelens deursoek, maak ’n einde aan die boosheid van die goddelose, maar ondersteun die regverdiges.” NLV

Boodskap en betekenis

Gebruik die Psalm om by God as Regter te pleit vir verlossing van jou vyande sodat die reg vir alle gelowiges wat hulle toevlug tot Hom neem, gehandhaaf kan word. Maar, let op dat dit insluit dat jy jouself oopstel dat die Here jou eie gedagtes en gevoelens ook deursoek, soos in talle ander Skrifgedeeltes bevestig word (Ps. 26:2; Jer. 11:20). Vra ook dat God ’n einde sal maak aan die bose dade van die goddelose mense sodat sy koninkryk oral gestalte kan kry.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar