Skip to main content

Psalm 100

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke. Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “’n Psalm. Vir lofprysing.” (2020-vertaling) en “’n Dankpsalm” (NLV en 1983-vertaling). Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11). Dit is ’n kort Psalm en daarom wil ek net drie perspektiewe uitlig wat jy in jou gebed kan gebruik: 1) Die Here is God. Jahwe (Here) word as God geteken en alle mense op aarde opgeroep om Jahwe as God te erken. Hy moet gedien word met blydskap; Hy moet erken word as God; Hy moet geprys word, omdat Hy goed is vir ewig en deur die geslagte. 2) Die ganse aarde moet hom prys. Let op dat dié lofpsalm vir die hele aarde bedoel is: “Juig die Here toe, o ganse aarde.” (2020-vertaling). Dit beteken dat hier ’n universele oproep is aan almal wat leef en beef op die aarde om die Here met blydskap en vreugde te dien. Meer nog, hulle almal word geteken as begunstigdes van God se versorgende hand, want hulle almal is sy kleinvee wat Hy laat wei. Uiteraard gee almal nie hieraan gehoor nie, en gaan hulle nie almal deur die poorte van die tempel – die gemeenskap van die gelowiges vandag – in met dankliedere en lofsange nie, maar die feit dat hulle in God hulle oorsprong het, dat Hy vir hulle sorg, word nie daarmee verminder nie. Met sewe opdragte word dié dinamiese karakter van hierdie lof uitgedruk: juig, dien, gaan (kom), erken, gaan, dank, prys. Die Here moet met blydskap gedien word. 3) Erken God se goedheid en troue liefde. Die inhoud van ons lof aan God word gekoppel aan die erkenning dat Hy God is, dat Hy ons gemaak het, dat ons aan Hom behoort, dat Hy ons soos ’n kudde kleinvee versorg, dat sy goedheid en troue liefde van geslag tot geslag duur, vir ewig. Dit is waarom die styl van ons lof geteken word as een van blydskap en vreugde. In die tempel moet sy poorte – by wyse van spreke – met lofprysing binnegegaan word, sy voorhowe met ’n loflied. Hy moet geloof word. Sy Naam moet geprys word.

Bid die Psalm

“’n Dankpsalm. Almal op aarde, juig tot eer van die Here! Dien die Here met blydskap. Kom voor Hom en sing met vreugde. Erken dat die Here God is! Hy het ons gemaak, en ons is Syne, sy volk, die skape van sy weiveld. Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. Want die Here is goed. Sy troue liefde hou aan vir altyd, sy trou is van geslag tot geslag.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 100 onderstreep dat Jahwe God is, en niemand meer. Alle mense moet Hom dus loof. En dit is baie belangrik: wanneer ons in die kerk hierdie lied sing, het dit betekenis vir die hele mensdom. Ons moet hulle die hele tyd in gedagte hou as ons dié lied uit volle bors sing. As jy dus weer sing: “Juig almal tot Gods lof en eer, kom dien met blydskap God die Heer.” (of soos dit vroeër was: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap gee Hom eer!”), dan dui dit nie net op dié wat langs jou in die kerkbanke sit of staan nie. Jy sluit elke mens op aarde in by jou loflied! Daarom sing ek ook vandag: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap, gee Hom eer. Kom nader voor Sy aangesig en prys Hom met ’n lofgedig!”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar