Skip to main content

Psalm 59:7-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid vergelyk in die tweede deel van die Psalm die vyande met grommende skuimende-mond honde wat hom omsingel. Hy put krag uit God se spottende houding teenoor hulle, waarin hy uit Psalm 2 aanhaal, en daarmee ook die nasies weer in spel bring. Op God wil Dawid sy hoop gevestig hou, want Hy is sy veilige vesting. Interessant genoeg wil hy nie hê dat die vyande/nasies eensklaps uitgewis sal word nie, maar eerder stadig, sodat hulle straf nie ongemerk sal verbygaan nie en almal terdeë daarvan bewus sal kan wees. Hy vra ook dat hulle eintlik met hulle eie woorde en houding gevang sal word, sodat dit duidelik blyk dat hulle hul straf verdien. Nogal ’n interessante perspektief.  ’n Skielike dood sou vermoedelik die gevaar kon inhou dat mense vir hulle jammer kon voel, inplaas daarvan om terdeë bewus te wees van die regverdigheid van hulle lotsbestemming, juis vanweë die stadige verloop van die proses. “Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer.” Nogal ’n belangrike perspektief wat rekening hou met die voordeel van die wiele van geregtigheid wat stadig draai … Dawid sluit af met nog ’n vergelyking van sy vyande met honde met die byvoeging dat hulle aan die tjank gaan as hulle nie genoeg kry nie! Let ook op dat hulle werk in die donker gedoen word. Daarteenoor sal Dawid elke môre teenoor God jubel, want hy is ’n kind van die dag. God is vir hom ’n veilige vesting (twee keer herhaal om dit te beklemtoon). Daarom wil hy God se eer en trou besing.

Bid die Psalm

“Hulle kom terug in die nag, hulle grom soos honde wat in die stad ronddwaal. Kyk hoe hulle my beledig met hulle monde! Hulle wys hulle tande terwyl hulle dink: “Wie sal ons hoor?” Maar, Here, U lag vir hulle. U spot met al die nasies. My sterkte, op U wag ek, want U, o God, is my skuilplek. My troue God sal my tegemoetkom. God sal my laat neersien op my vyande. Moenie hulle dadelik doodmaak nie, want my volk vergeet so gou; laat hulle steier deur u krag, en bring hulle tot ’n val, Here, ons skild. Weens die sonde uit hulle mond, weens die woorde van hulle lippe, laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed, weens hulle vervloekings en hulle leuens. Vernietig hulle in u toorn! Wis hulle geheel en al uit! Dan sal hulle weet dat God in Jakob regeer en tot by die einde van die aarde. Sela Hulle kom terug in die nag, hulle grom soos honde wat in die stad ronddwaal. Hulle aas rond op soek na kos, maar kry nie genoeg nie, dan tjank hulle. Maar ek sal sing van u mag en in die oggend jubel oor u trou. Want U was my toevlug, ’n veilige skuiling in tye van nood. Ek sing lofliedere vir U, my Sterkte, want God is my skuilplek, U is my troue God.” NLV

Boodskap en betekenis

‘n Mens gebruik Psalm 59 in tye van groot aanvegting, veral in persoonlike krisisse, maar ook wanneer ’n gemeenskap onder beleg is van anargie en wetteloosheid. Onthou dat die Psalm vir jou “woorde vir jou woede” gee, maar dat jou gebed vir jou vyande uiteindelik eerder hulle transformasie in die oog het. “Laat hulle ondergaan” kan dan gebid word as “laat hulle dade ondergaan” terwyl steeds vir die inkeer van die vyande en die omkeer van die uitwerking van hulle dade gebid word. En onthou dat daar voordele is in die wiele van geregtigheid wat stadig draai. Die impak van die verandering is groter as dit langsamerhand tot stand kom. Geduld en vertroue is die wagwoord!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar