Skip to main content

Psalm 9:14-21

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die lig van God se regverdigheid wat Hy in Israel sowel as onder die nasies op soveel wyses ten toon gestel het, het Dawid vrymoedigheid om die Here te nader vir uitkoms in die ellende waarin hulle deur sy haters gedompel is. Hy vra vir ‘n beslissende optrede van die Here wat sal laat blyk dat Hy God is en hulle net maar mense.

Bid die Psalm

“Here, wees my genadig. Kyk na die ellende wat haters my aangedoen het! Ruk my uit die poorte van die dood sodat ek u dade bekend kan maak, U kan prys in die poorte van Sion, en kan jubel omdat U my gered het. Die nasies het geval in die gat wat hulle gegrawe het. Hulle voete is in hulle eie net gevang. Die Here is bekend vir sy regverdige oordeel. Die goddeloses is gevang met hulle eie handewerk. Higgajon Sela Die goddeloses is op pad na die graf soos al die nasies wat God vergeet. Want die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie, en die hoop van die armes sal nie vir altyd vernietig word nie. Staan tog op, Here! Moenie dat mense U teëstaan nie! Laat die nasies voor U teregstaan. Here, laat hulle bewe van angs en besef hulle is maar net mense. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid dat God hom weer genadig sal red van die ellende waarin hy verkeer. Hy erken dat God God is, en bid dat almal tot daardie besef sal kom. Bid vanuit dieselfde perspektief oor die ellende en teëstand wat jy self ervaar.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar