Skip to main content

Psalm 62

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 62 druk die vaste geloof van Dawid uit terwyl hy in ’n situasie van groot uitdagings verkeer.  Dit gee aan hom nie net ’n rustige sekerheid midde-in aanvegtinge nie, maar dien ook as getuienis en bemoediging van die geloofsgemeenskap.  God is vir almal ’n veilige vesting.  Daarin kan ’n mens rus vind. Let op hoe hierdie Psalm regdeur een van belydenis en bemoediging is en waarskynlik in die liturgie gebruik is as getuienis aan die geloofsgemeenskap en dat die Psalm eers in die laaste vers, amper ongemerk, oorgaan tot ’n gebed aan God. Die Psalm kan in drie dele verdeel word weens die Selas en die herhalende frase in vers 2 en 6: Net by God kan ek rustig wag. 1) Net by God vind ek rus – vers 2-5.  Dawid beweeg van ’n belydenis oor God se onwankelbaarheid waarin hy rus vind (vers 2-3), na ’n beskuldiging van sy teenstanders se pogings om hom op skynheilige wyse te na te kom en uit te werk (vers 4-5). 2) Stort julle hart voor Hom uit – vers 6-9.  Dieselfde beweging word in dié deel van die Psalm gevind, net hierdie keer van belydenis (vers 6-8) na bemoediging van sy geloofsgenote (vers 9).  Let op hoe hy ook dié keer sy vertroue in God uitspreek en die volk aanmoedig om hulle hart voor God uit te stort (vgl. Ps. 102:1; 142:3).  God is vir ons ’n toevlug! 3) Net God het regtig mag – vers 10-13.  ’n Soortgelyke beweging is merkbaar in hierdie deel van die Psalm.  Die magteloosheid van die mens word onomwonde beskryf in terme van hulle verganklikheid en nietigheid (vers 10-11) en vergelyk met die mag van God wat alle mense impakteer en daarom die enigste Een is waarop ’n mens kan vertrou (vers 12-13).  Let op hoe Dawid ons waarsku om nie op geweld of rykdom te vertrou nie.  Moenie dat rykdom “te na aan jou hart lê nie.” Die laaste vers se gebed formuleer twee diep waarhede oor God.  Benewens God se mag (vers 12) staan sy liefde en sy regverdigheid uit as dié prentjie van God wat rus en versekering bring.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Psalm van Dawid. Net by God kan ek rustig wag, van Hom kom my verlossing. Net Hy is my rots en my redding, my vesting waar ek baie stewig staan. Hoe lank sal julle ’n mens aanval? Hulle almal probeer om my dood te maak. Ek is reeds soos ’n bouvallige muur, of ’n vervalle heining. Hulle wil my my ereplek ontneem. Hulle geniet dit om leuens te vertel. Met hulle mond seën hulle my, maar in hulle harte vervloek hulle my. Sela Ek wil rustig op God wag, want van Hom kom al my hoop. Net Hy is my rots en my redding, my vesting waar ek stewig staan. God is my redding en my krag; God is my sterke rots en my toevlug. Vertrou op Hom te alle tye, my volk, stort jou hart uit voor Hom, want God is ons toevlug. Sela Sekerlik is mense net ’n asempie, en die mensdom onbetroubaar. Op die weegskaal weeg hulle niks. Saam is hulle ligter as ’n windjie. Moenie vertrou op afpersing of valslik trots wees op rowery nie. En as jou rykdom vermeerder, moenie dat jou lewe daarom draai nie. God het duidelik gepraat, ek het dit telkens gehoor: die mag behoort aan God, en ook die trou behoort aan U, Here. U beloon elkeen volgens sy dade.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie is ’n Psalm vir tye van aanvegting. Dawid draai sy binnekant na God toe as mense op hom afstorm om hom gelyk te maak met die grond, want van God is sy verwagting. Net by God vind hy rus. God is sy rotsvesting, sy bron van krag. Voor Hom stort Dawid sy hart uit en dit is dan wat hy raaksien dat die vyande se gesamentlike gewig die weegskaal nie eers roer in vergelyking met die ontsag wat God inboesem nie. Dit is waarom vertroue op jou eie vermoë so dwaas is. As rykdom “te na aan jou hart lê.” Om ander in die proses te verdruk of te beroof, is dubbeld dwaas, want die Here vergeld in sy regverdigheid elkeen vir sy werk. Sy lojale liefde is vir dié wat hulle vertroue op Hom plaas en nie by onreg betrokke raak nie. Dié gedagte (vgl. ook Ps. 28:4; Spr. 24:12; Jer. 17:10) het wyd in die NT ’n neerslag gevind.  God tree billik op teenoor alle mense volgens die somtotaal van hulle werke, die nalatenskap van hulle lewens.  Jesus verklaar in Matt. 16:27 op voetspoor van hierdie teks: “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.” (vgl. ook Matt. 7:22-23; 13:41-42) Paulus  gebruik ook Ps. 62:13 in sy beredenering in Rom. 2:6-8 oor God se hantering van die ganse mensdom: “Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.”  Ook Petrus gebruik hierdie Psalm as appèl aan die gelowiges om uit eerbied vir God in totale toewyding te leef: “Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.” (1 Pet. 1:17). Dat ons dade dus belangrik is vir God, is duidelik.  Die gedagte is nie dat ons daardeur iets verdien nie.  Dit kan ons nooit nie.  Maar, dit is ook duidelik dat daar niks is wat geloof so duidelik kan toon, as dat ons doen wat God van ons vra nie – presies wat Jakobus so prakties uitspel in sy brief onder die opskrifte: Hoor en Doen (1:19-27) en Glo en Doen (2:14-26).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda