Skip to main content

Psalm 45:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Na die worsteling en smeekgebede van Psalm 42-44 bring Psalm 45 ’n verandering in atmosfeer en fokus. Een van die Koragiete dra die gedig voor aan die koning en verheerlik in die eerste deel daarvan die koning se heldhaftige oorwinnings wat geregtigheid laat geskied.  Let op dat sy skoonheid en wysheid aan God se seën toegeskryf word.  Sy opdrag as koning word verbind aan die stryd vir die waarheid en vir die reg van die hulpelose, soos Spreuke dit ook meermale vermeld.  Sy invloed word vergelyk met dié van ’n verhewe wese waarmee goddelike eienskappe aan hom toegeskryf word.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. ’n Gedig. ’n Lied van die liefde. Mooi dinge roer my hart. My gedig dra ek voor aan die koning. My tong is soos die pen van ’n vaardige skrywer. U is die aantreklikste van alle mense. Minsame woorde vloei uit u mond. Daarom het God u vir altyd geseën. Magtige krygsman, maak u swaard aan u sy vas! Glansryk en koninklik is u! Geklee in majesteit, trek tog uit na die oorwinning. Ter wille van waarheid, sagmoedigheid en reg, laat u regterhand skrikwekkende dade verrig! U skerp pyle laat volke voor u val. Dit deurboor die hart van u vyand. God vestig u troon vir altyd. Opregtheid is die septer waarmee u regeer. U het geregtigheid lief, en haat die kwaad. Daarom het God, u God, u bo u tydgenote met vreugde-olie gesalf.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm het in die NT ’n Messiaanse interpretasie gekry soos ons dit lees in Hebreërs 1:8-9 waar uit Psalm 45:7-8 aangehaal word en op Christus van toepassing gemaak is: “8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” (1983-vertaling) Jy kan die Psalm dus as ’n gebed vir die Here Jesus as jou Koning gebruik, soos dit in Hebreërs geïnterpreteer is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar