Skip to main content

Psalm 89:39-53

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Teenoor hierdie beskrywing van God se liefde en trou – van sy verbintenis aan sy verbond, van sy liefde ten spyte van: “my liefde vir hom sal nooit ophou nie,” selfs wanneer hulle ongehoorsaam is – staan die werklikheid dat die verbond toe nie in ag geneem is nie, dat die koningskap van sy nasate weggeneem is en Jerusalem verwoes is.  Die vyande het geseëvier. Op grond van die feit dat God dus belowe dat Hy sy liefde nie sal terughou nie, ten spyte van Israel se ongehoorsaamheid, vra die Psalmis daarom: “Sal U Uself vir altyd verberg?”  As pleidooi dat die Here tog sy liefde weer sal in werking stel, word die kortstondigheid en nietigheid van die lewe geskets.  Almal gaan uiteindelik dood en het daarom behoefte aan God se liefde van vroeër, ’n mens wil amper sê sonder verdienste, net uit deernis met hulle lot. Daarom bid Etan dat God aan hulle sal dink, verpersoonlik in die gestalte van sy gesalfde en nie vyande die oorhand laat kry nie: “Hulle wat spot, is u vyande, Here, hulle bespot elke tree van u gesalfde.” Die Psalm sluit met vers 53 wat ook die 3de Psalmboek afsluit.

Bid die Psalm

“Maar U het hom verwerp en verstoot. U was kwaad vir u gesalfde. U het u verbond met hom laat vaar, U het sy kroon op die grond vertrap. U het al sy stadsmure afgebreek en sy vestings in puinhope verander. Elkeen wat verbykom, beroof hom, terwyl sy bure hom bespot. U het sy vyande laat triomfeer, al sy teenstanders laat jubel. U het sy swaard nutteloos gemaak, hom nie bygestaan in die geveg nie. U het sy grootsheid beëindig en sy troon op die grond gegooi. U het hom oud voor sy tyd gemaak en hom met vernedering oordek. Sela Hoe lank nog, Here? Sal U Uself vir altyd verberg, en u toorn soos vuur laat brand? Dink tog hoe verganklik is die lewe. Is die skepping van die mens dan ’n nuttelose daad? Watter mens kan lewe sonder om die dood te sien? Wie kan homself red uit die mag van die doderyk? Sela Here, waar is u liefde van vroeër wat U in u trou met ’n eed aan Dawid beloof het? Dink tog, Here, aan die vernedering van u dienaars, hoe ek in my hart die beledigings van baie volke dra. Hulle wat spot, is u vyande, Here, hulle bespot elke tree van u gesalfde. Lof aan die Here vir altyd! Amen, ja, amen!” NLV

Boodskap en betekenis

God se liefdesdade is ’n sterk getuienis daarvan dat Hy sy beloftes waar maak.  Die vraag is egter of dié beloftes in alle omstandighede waar gemaak kan of sal word? Wat gebeur as die nageslag nie meer die Here dien nie? Kan God dan ook nog sy beloftes waarmaak, dié beloftes wat hy aan die voorgeslagte gegee het? Meer spesifiek, kan Israel staatmaak op voorkeur behandeling omdat God ’n verbond met hulle stamvader Dawid gesluit het? En wat van ons? Ons is geneig om ’n meer wit-swart oordeel te fel – reg of weg.  Etan weet egter dat só ’n aanpak altyd sal lei tot ’n verwerping.  Daarom pleit hy eintlik vir die onmoontlike hoop, dat God se liefde sy oordeel sal troef en daaroor sal triomfeer.  Dit is die gebed wat ons kan aangryp en vir onsself en vir ons mense kan bid.  Die hoop op God se onverdiende guns alleen. En die bloed het op Golgota geloop om dít vir ons almal reg te kry… daarin lê ons verlossing. Jesus is bespot en as “koning van die Jode” verwerp, sodat Hy aan die kruis vergifnis kon verwerf vir elkeen wat in Hom glo, en sy vertroue op Hom plaas. Dit is die hoop vir die nageslag van Israel, en uitgebrei tot enigiemand uit al die nasies van die aarde.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar