Skip to main content

Psalm 19:1-7

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 19 is een van die skeppingspsalms. Dit roep in die eerste deel die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering. In vers 2 word die sigbare heerlikheid van God in die heelal geskets. In vers 3-5a word die onsigbare teenwoordigheid van God – wat dag na dag en nag na nag op ‘n woordelose maar ervaarbare manier oorgedra word – besing. In vers 5b-7 word die son as sigbare verteenwoordiger van God geskets wat van die een kant van die aarde af tot die ander kant die wêreld verlig en verwarm met sy gloed.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Die hemele verkondig die heerlikheid van God. Die uitspansel getuig van die werk van sy hande. Die een dag vertel vir die ander dag; die een nag vir die volgende nag. Hulle praat sonder woord of klank, geluidloos is hulle stem; hulle boodskap gaan uit oor die hele wêreld, hulle woorde tot die uiterste van die aarde. Die son se woonplek is in die hemel, waar God dit geplaas het. Soos ’n bruidegom verskyn hy uit sy kamer, soos ’n held op die baan, ywerig om weg te spring. Aan die een kant van die horison kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder. Niks kan sy hitte ontkom nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis het gehoop dat dié Psalm mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly. Neem tyd vandag om in die natuur te gaan stap en die Here met dié Psalm se eerste deel te loof. Indien jy nie kan nie, kyk ‘n natuurprogram op TV en gebruik die beelde om jou verbeelding te stimuleer om die Here te prys.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar