Skip to main content

Psalm 60:1-7

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Ons verhouding met God speel gewoonlik af teen die agtergrond van ons persoonlike worstelinge en uitdagings, sowel as in ’n mindere mate teen die agtergrond van publieke en sosiale werklikhede waaraan ons blootgestel word.  Natuurlik is dit ook deel van die ervaringswêreld van die Psalmdigters. In dié Psalm word egter oor ’n verhouding met God gepraat teen die agtergrond van nasionale uitdagings.  Gevegte teen twee nasies word in vers 2 genoem wat die aanleiding is vir die skryf van die Psalm en beïnvloed hoe ’n mens dit lees.  Die drie gevegte wat genoem word, is dié van Dawid teen die Arameërs van Mesopotamië, Dawid teen die Arameërs van Soba en Joab teen die Edomiete in die Soutvlakte waar hy 12 000 mense doodgemaak het. Dit is duidelik dat dié oorwinnings in die verlede in herinnering geroep word, in ‘n tyd waar dit sleg gaan met die volk en opnuut om God se ingrype gevra word.  2 Samuel 8 beskryf waarskynlik die historiese omstandighede van die oorwinnings in die verlede en 1 Konings 11 (meer daaroor op bybelskool.com) die historiese omstandighede van die Psalm se worsteling met die nederlae in die hede waaruit die gebed vir God se ingrype geformuleer is.  Daar is ’n paar veldtogte van Dawid in 2 Samuel 8 waarop dié verwysing na oorwinnings oor die Arameërs en Edomiete waarskynlik dui. Daar word ons vertel dat benewens die gevegte teen die Filistyne en Moabiete, het Dawid “sy mag aan die Eufraat gaan herstel” (vers 3 – dit is in Mesopotamië) deur die Aramese koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob, te verslaan.  Hy het perde en soldate by hom afgevat. Die Arameërs van Damaskus het toe vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het hulle ook verslaan en militêre poste in hulle gebied ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Na sy oorwinning oor die Arameërs het Dawid vir hom naam gemaak toe hy agtien duisend man van Edom in die Soutvlakte verslaan het. Hy het oral in Edom militêre poste ingerig, en die hele Edom het aan hom onderhorig geword.   Joab se leierskap word in Samuel erken, hoewel nie in detail uitgespel nie. Psalm 60:1-2 verwys dus waarskynlik hierna. Die Psalm kan in drie dele verdeel word, veral na aanleiding van die verandering in spreker in vers 8-10.  In vers 3-7 is die Psalmis aan die woord namens die volk. Ons lees die ander twee dele môre.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Die lelie”. ’n Getuienis. ’n Gedig van Dawid, bedoel vir onderwysing met verwysing na sy geveg teen die Arameërs van Mesopotamië en die Arameërs van Sob, toe Joab teruggekeer het en 12 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het. U het ons verstoot, o God, ons verdediging afgebreek. U was vir ons kwaad; herstel tog u guns oor ons. U het ons land geskud en dit oopgeskeur. Heel tog die krake, want dit stort ineen. U het u volk laat swaarkry, ons wyn laat drink wat ons laat slinger. Vir dié wat U dien, het U ’n vaandel gehys, ’n versamelplek teen die boogskutters. Sela Red ons met u krag en help ons sodat U u geliefde volk kan red.” NLV

Boodskap en Betekenis

Dawid is oortuig dat die ellende van die hede net aan een ding toegeskryf kan word: God het hulle verstoot omdat Hy kwaad is vir hulle.  Niks anders kan die ramp waarin hulle verkeer verklaar nie.  Tog is die hoop van die Psalm steeds in God geleë, dat God hulle weer onder sy vaandel sal verenig sodat hulle by God veilig kan wees teen die vyand.  Net God kan hulle help, want let op hoe hy dit stel: “Help ons sodat U u geliefde volk kan red!” Selfs waar die Here hulle in staat stel om die oorwinning te behaal, is dit eintlik die Here self wat die oorwinning behaal. Dit is regtig waar wat ons telkens in ons lofprysing bely: “Hy alleen is God in die hemel en op die aarde!”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar