Skip to main content

Psalm 147

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 147 raai die geloofsgemeenskap ook aan om op die Here te vertrou, soos Psalm 146, maar begrond dit nie net in God se kongruente karakter nie, maar veral in sy vreugdevolle versorging wat Hy ten toonstel in die natuur sowel as in die geskiedenis van sy mense: ”Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.” Die Psalm kan in drie verdeel word op grond van die opdrag om die Here se lof te besing in vers 1, 7 en 12. In al drie dele word op verskillende maniere die geweldige grootheid van God besing wat in sy kreatiewe krag in die kosmos ten toon gestel word, sowel as die grenslose genot van God wat in sy vreugdevolle versorging van alles wat leef en beef – kraaie en kinders – ten toon gestel word. God is groot in sy almag, maar ook vol van genade in sy nabyheid.

Bid die Psalm

“Prys die Here! Want dis goed om ons God te prys. Dis ’n vreugde en ’n genot om Hom te prys. Die Here herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel. Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde. Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam. Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie. Die Here ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond. Sing ’n danklied aan die Here; sing lofliedere vir ons God met begeleiding van die harp. Hy oordek die hemel met wolke, Hy verskaf reën vir die aarde en laat gras groei op die berghellings. Hy voed die wilde diere, en die jong kraaie wat skree vir kos. Die krag van ’n oorlogsperd beïndruk Hom nie; met die ratsheid van ’n krygsman neem Hy nie genoeë nie. Die Here verheug Hom in hulle wat Hom dien, in dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde. Prys die Here, Jerusalem! Prys jou God, Sion! Want die sluitbalke van jou poorte het Hy versterk, en jou kinders geseën. Hy gee vrede oor jou grondgebied, versadig jou met die beste graan. Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei. Hy stuur die sneeu, wit soos wol; Hy strooi ryp uit soos as, laat haelstene val soos broodkrummels. Wie kan standhou teen sy koue? Dan, op sy bevel, smelt alles weer. Hy laat sy winde waai, en die water loop. Hy maak sy woord bekend aan Jakob, aan Israel sy voorskrifte en gebooie. Vir geen ander nasie het Hy dit gedoen nie; sy bepalings ken hulle nie. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis sien God se grootheid raak in sy herbouing van Jerusalem waar die verstrooides vanuit die ballingskap weer ‘n tuiste gevind het. Hulle gebroke harte is genees en hulle wonde is verbind. Die Here het die verdruktes weer opgehelp en bevestig. Die verwysing na die sterre wat die Here name kan gee, word hier eintlik as ‘n metafoor gebruik om sy Herderskap te beklemtoon. Die Here se geweldige grootheid word nie net gedemonstreer in die feit dat die sterre soos sy skape is wat Hy versorg nie, maar ook in die feit dat Hy sy mense soos sy skape terugbring uit die verstrooiing en bó die goddelose mense verhef en bevestig. Hoekom sou God dit doen? Die Psalmis begrond dit in God se grenslose genot in sy skepping en sy skepsels. Hy sorg vir hulle almal, omdat Hy in hulle ‘n intense vreugde vind – kraaie en kinders. Hy verheug Hom in die wolke en die reën, in die gras op die berge sowel as in die diere en die jong kraaie wat krys, en veral in dié wat vir Hom ontsag het en op Hom hoop. Hy is doodgewoon lief vir almal en wil aan hulle sy genade in oorvloed uitstort en hulle versorg. Weereens keer die Psalmis terug na die herbouing en beveiliging van Jerusalem en loof die Here vir die seën wat dit vir die kinders in die families en vir die families binne die gemeenskap gebring het. Hulle kan nou veilig woon en die voorsiening wat God gee in die natuur geniet. Let op hoe God se woord as effektief beide in die natuur as in die geloofsgemeenskap geteken word. God stuur sy woorde uit en dit bring reën sowel as insig. Dit versorg die gemeenskap beide met kos om te eet sowel as met woorde om geestelik van te leef en hulle gemeenskapslewe op te begrond.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar