Skip to main content

Psalm 93

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 93 vier God se heerskappy oor die chaosmagte wat stabiliteit gebring het oor die wêreld (vers 1–4) sowel as sekuriteit in die geloofsgemeenskap (vers 5). Dit resoneer met die gedagte van die rus waarvan Gen. 2:1 praat wat beide ’n Goddelike dimensie as ’n menslike dimensie het. Dit is waarom dié Psalm dan ook met die “lied vir die dag” in die Joodse tempel tradisie geassosieer is. Dit is op Vrydae deur die Leviete in die tempel gesing by die bring van die brandoffer. Let op hoe God se koningskap van ouds af geteken word: “U troon is gevestig van altyd af. U bestaan van ewigheid af.” Die gedruis van die “riviere” en van “baie waters” roep die oerchaos waaruit God geskep het, in herinnering (vgl. Gen. 1:2). Dit is dié God wat die Koning in die geloofsgemeenskap is. Daarom kan ’n mens sy bepalings vir die lewe navolg, want nie net is dit onveranderlik nie, dit is ook betroubaar tot in lengte van dae.

Bid die Psalm

“Die Here is Koning! Hy is met majesteit beklee. Inderdaad, die Here beklee Homself; Hy omgord Homself met krag. Die wêreld is stewig gevestig; dit kan nie wankel nie. U troon is gevestig van altyd af. U bestaan van ewigheid af. Die riviere het hulle verhef, Here. Die riviere het hulle stem verhef. Die riviere verhef hulle met gedruis. Maar bo die gedreun van baie waters, bo die geraas van die golwe van die see, bo alles is die mag van die Here! U bepalings is onveranderlik. Heiligheid versier u woning, Here, tot in lengte van dae.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm leer my dat God vir stabiliteit in die wêreld en sekuriteit in die geloofsgemeenskap sorg. Daarvoor kan ’n mens Hom vertrou. Dit kan ’n mens ook van Hom vra. Daarom kan ek ook myself gee vir sy riglyne vir die lewe, want dit is in sy teenwoordigheid wat ek self en die geloofsgemeenskap betekenis en sin vind. En dit is ’n boodskap wat dié wêreld moet hoor.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar