Skip to main content

Psalm 84

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die volgende paar Psalms word aan die Koragiete toegeskryf – Psalms 84-88 – uitgesonderd Psalm 86 wat aan Dawid verbind word. Psalm 84 is ’n besondere beskrywing van die tempel as die spilpunt van God se teenwoordigheid in Israel – beide uit die hoek van die mense wat daar woon as die mense wat die pelgrimstog daarheen onderneem. Dit is ook ’n Psalm wat verskeie kere getoonset is en onder ander op pragtige wyse deur Chris Lamprecht as koormusiek verwerk is. Twee merkers in die Psalm staan uit: 1) drie saligsprekinge in vers 5, 6 en 13 wat die geluk van dié wat in God se huis woon, wie se krag in God lê en wat op Hom vertrou, besing; 2) dat die Here vier keer as “Heerser oor alle magte” (Jahwe ṣeva’ôt – “Here van die leërskare” 1933-vertaling; “Almagtige” NLV en 1983-vertaling) geteken word in vers 2, 4, 9, en 13. Die Psalm is opgedeel in vier dele: 1) die verlange na die tempel van die Here – vers 2-5; 2) die impak van die God van die tempel – vers 6-8; 3) ’n gebed vir beskerming van God se gesalfde – vers 9-10; 4) die genade wat God vanaf die tempel skenk – vers 11-13.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met musiek. Van die Koragiete. ’n Psalm. Hoe lief het ek u woonplek, o Here, die Almagtige! Here, ek verlang, ek hunker na u woning. Met my hele wese, liggaam en gees, wil ek jubel oor die lewende God. Selfs ’n mossie kry hier ’n plek, en die swaeltjie bou haar nes en maak haar kleintjies groot naby u altare, Here, die Almagtige, my Koning en my God! Gelukkig is hulle wat in u huis woon, waar hulle U deurentyd kan loof. Sela Gelukkig is hulle wie se krag van U kom, wat hulle harte rig op ’n pelgrimstog. Gaan hulle deur ’n droë vallei, word dit omskep tot ’n fonteinedal. Vroeë reëns bring vir hulle seëninge. Hulle kragte sal vermeerder tot hulle in Sion voor God verskyn. Here God, die Almagtige, luister na my gebed. Luister, o God van Jakob! Sela O God, ons beskermer, kyk tog, betoon genade aan u gesalfde! Een dag in u tempel is beter as duisend elders! Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as dat ek woon in huise van goddeloses. ’n Son en skild is die Here God. Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie. Here, die Almagtige, gelukkig is hy wat op U vertrou.” NLV

Boodskap en betekenis

Die skoonheid van die tempel lê nie net in die prag en praal van die geboue nie, maar ten diepste in die lewende God aan wie die Koragiete verknog is en na wie hulle verlang.  Soos die mossies en swaeltjies ’n plekkie daar vind, só wil die Koragiete dit ook ondervind.  Hulle is immers mense wat gelukkig genoeg is om daar te woon (in die tempelgeboue) en kan daar die Here gedurig loof, want hulle is by die bron van hulle krag. Die tempel as sodanig is dus nie die punt van hulle argument dat ’n dag in God se voorhowe beter is as ’n duisend daarbuite nie, maar dat hulle só die genade en eer wat die Here skenk, kan geniet.  Want dié God is Een wat nie terughou wat goed is nie van dié wat onberispelik lewe nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…