Skip to main content

Psalm 86:11-17

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die hart van die Psalm is die gebed vir en verbintenis daaraan dat die Here hom sy pad sal leer, omdat hy in God se waarheid wil wandel.  Hy wil leer om die Here met toewyding te dien. In die tweede deel van die Psalm word sy gebed en verbintenis begrond op sy vroeëre ervaring van God se troue liefde wat groot is, soos hy voorheen in doodsgevaar beleef het. Dit neem nie veel verbeelding om Psalm 23 se woorde in herinnering te roep nie – “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” (Ps. 23:4). In die laaste deel van die Psalm keer Dawid terug na die eerste deel van sy gebed, maar word nou meer spesifiek in sy smeekgebed.  Hy loop deur onder verwaandes en geweldenaars, mense wat nie met God rekening hou nie. Hy vra dat God hom krag sal gee en hom sal verlos.  En hy vra dat God vir hom persoonlik ’n teken van sy goedheid sal gee, iets wat publieke betekenis sal hê. Die fokus lê dus op iets wat vir die Psalmis gedoen word.

Bid die Psalm

“Leer my u weë, Here, sodat ek in u waarheid kan wandel. Gee my ’n onverdeelde trou om so u Naam te dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here, my God. Ek sal u Naam vir altyd verheerlik, want u liefde vir my is baie groot. U het my uit die doderyk gered. O God, verwaande mense het my aangeval. Geweldenaars wil my doodmaak, mense met geen agting vir U nie. U, Here, is barmhartig en genadig, U is stadig om kwaad te word, vol liefde en trou. Sien my raak en wees my genadig. Gee sterkte aan u dienaar, red die seun van u dienares. Stuur my ’n teken van u guns. My haters sal toekyk en verslae wees, want U, Here, help en vertroos my.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm is een van die vele model gebede in die Bybel. Dit gee ’n struktuur aan ons smeekgebede wat navolgenswaardig is: roep, prys, verbind, vra.  Wat veral merkwaardig is vir my in die Psalm is in die eerste plek die behoefte om deur God geleer te word om in die waarheid te wandel en in die tweede plek die waagmoed om van God ’n teken van sy goedheid te vra, iets wat vir jouself betekenis kan hê, maar verseker ook iets wat vir ander iets van God se werklikheid kan oordra. Ontsag vir God se waarheid sowel as Lof vir God se onverdeelde trou – dit is die fokus van Dawid se lewe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar