Skip to main content

Psalm 18:37-46

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid vier in die vyfde deel van Psalm 18 die oorwinning wat God vir hom gee oor sy vyande. Hy kan onomwonde getuig dat die Here leef en sorg vir sy kinders in die konflikte wat onvermydelik tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis ontstaan.

Bid die Psalm

“Die pad onder my maak U breed, en my enkels swik nie. Ek het my vyande agtervolg en ingehaal; ek het nie omgedraai voordat hulle almal uitgewis was nie. Ek het hulle oorrompel en neergeslaan, hulle kon nie opstaan nie; hulle het voor my voete geval. U het my met krag toegerus vir die stryd, en my teenstanders aan my onderwerp. My vyande het U voor my laat vlug; my haters het ek uitgewis. Hulle roep om hulp, maar niemand kom help nie; selfs tot die Here, maar Hy antwoord hulle nie. Ek maal hulle fyn soos die stof van die aarde, soos modder op straat vermorsel ek hulle. In die stryd met teenstanders het U my verlos, my aangestel as koning oor nasies. ’n Volk wat ek nie geken het nie, dien my nou. Uitlanders word my onderdane. As hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my. Vreemdelinge word moedeloos en kom bewend uit hulle vestings.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is aan die een kant ‘n ontstellende gedeelte. Dié vyande roep selfs na God in hulle nood, maar Hy antwoord hulle nie (vers 42). Dit verwys waarskynlik na geleenthede soos Saul se onegte “bekerings” teenoor Dawid wat altyd weer in verraad en vyandskap geëindig het, al het Dawid konsekwent gekies om nie sy hand aan Saul as God se gesalfde te slaan nie. God word egter nie deur onegtheid en skynheiligheid om die bos gelei nie (vgl. 2 Tim. 2:11-13 waar Jesus ook dié verloën wat Hom verloën). Daarom maak God se doofheid vir hulle nood sin, want hulle is doof vir God se wil en sy mense se nood.

Maar, aan die ander kant, onthou wel dat Jesus ons leer om steeds te bid vir ons vervolgers. Om ons vyande lief te hê (Matt. 5-7). Paulus leer ons om eerder die kwaad deur goed doen te oorwin (Rom. 12:9-21). Want, soos Paulus die hoop in hierdie Psalm raaksien, neem die Here sy posisie in Christus in as: “koning van die nasies.” (Vgl. Ps. 18:50 in Rom. 15:9). Jesus moes vir sy volk die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Maar, Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos Paulus Dawid aanhaal: “Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ’n lofpsalm sing.” (vgl. ook Deut. 32:43; Ps. 117:1; Jes. 11:10 wat Paulus ook in dieselfde gedeelte in Romeine 15 aanhaal).

Dit beteken natuurlik nie dat God nie ook optree teen vyande en haters nie. Dit is juis wat ons die krag gee om lief te hê en ‘n tweede myl te stap. “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (vgl. Rom. 12:19 soos aangehaal uit Deut. 32:25). Maar, dit gee ons die hoop dat God nie net oordeel bring nie, maar ook verlossing, en dit ook spesifiekvir die nasies.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar