Skip to main content

Psalm 2:7-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 2 vervolg in twee dele. Die gesalfde koning eien eerstens sy status en erfenis as God se seun toe. Hy waarsku tweedens die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien.

Bid die Psalm

“Ek wil vertel van die Here se besluit. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun. Vandag het Ek jou Pa geword. Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting. Met ’n ysterstaf sal jy hulle stukkend slaan, soos ’n kleipot hulle verpletter.” Wees nou verstandig, o konings! Wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Dien die Here met eerbied en juig oor Hom met bewing. Onderwerp julle aan God sodat Hy nie toornig word en jy op die pad omkom nie. Want sy toorn ontvlam gou, maar daar is vreugde vir almal wat by Hom skuil.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm word die meeste in die NT aangehaal. Dit is die Psalm wat die duidelikste skakel tussen God se werk in Dawid en God se werk in Jesus gevorm het. Dit is hierdie Psalm wat agter die identifikasie lê van Jesus as die Seun van Dawid, die Een wat God se koninkryk laat kom (Mark. 1:14-15), wat nie net die Messias is nie (Luk. 9:20), maar ook die Seun van God (Joh. 1:34) die Een wat uit die dood opgestaan het (Hand. 13:32-34), en die totale beheer oor die nasies ontvang het (Openb. 2:27; 12:5; 19:15). Gebruik hierdie deel van Psalm 2 as jou gebed vir die nasies. Bid dat hulle tot insig en inkeer sal kom van hulle dwase opstand teen die Here. Hy is in beheer.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar