Skip to main content

Psalm 77:12-21

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hoewel ons nie enigsins van ’n verandering in die situasie van Asaf lees nie, bly hy egter nie in hierdie verslaentheid en bevraagtekening van God nie. Hy beweeg weg van die fokus op sy eie ervaring en die gebruik van “ek”-taal na ‘n meer direkte gesprek met God oor sy teenwoordigheid in die geloofsgemeenskap.  Hy spreek God direk aan: “U is die God wat wonders doen…”  Hy fokus doelbewus sy gedagtes op die wonderlike dade van die Here in die geloofsgemeenskap uit die verlede, maar hierdie keer om God se lof direk te besing, want alles wat die Here doen, is eintlik heilig.  “O God, u weë is heilig”.  Die pad wat God met hulle stap, is heilig, want die Here is daar midde-in die onrus en nood en bring op sy tyd uitkoms.  Daarom kan ’n mens Hom vertrou. Dit wys tog onomwonde in die verhale van die Uittog uit Egipte, die tog deur die Rooi See en die begeleiding deur die woestyn.  God is vir sy mense ’n God wat wonders doen, wat hulle op kragtige wyse verlos, wat sy krag in die natuur kan demonstreer, maar ook in verhouding met sy mense hulle kan begelei.

Bid die Psalm

“Here, ek onthou wat U gedoen het, ja, ek onthou u wonderlike dade van destyds. U dade bly in my gedagtes. Al u werke wil ek bepeins. O God, u weë is heilig. Is daar enige god so magtig soos U? U is die God wat wonders doen! U het u mag aan die nasies getoon. Deur u mag het U u volk gered, die nageslag van Jakob en Josef. Sela Toe die waters U sien, o God, toe hulle U sien, het hulle gebewe, selfs die diepsee het gesidder. Die wolke het reën neergestort, die donderslae het gerammel, u weerligpyle het oral geblits. U donder het gebulder in die storm; weerligstrale het die wêreld verlig! Die aarde het gebewe en geskud. U pad loop deur die see, u weg was deur magtige waters, maar u spoor kon niemand sien nie. Soos ’n kudde het U u volk gelei; Moses en Aäron was hulle herders.” NLV

Betekenis en boodskap

Die omkeer in ons worsteling kom wanneer ons minder bekommerd raak oor wat ons ervaar en ons met God self besig raak, Hom aanspreek, Hom loof vir sy grootheid en heiligheid in die geloofsgemeenskap, ten spyte van ons persoonlike nood.  Dit is dan wat ons begin ervaar dat Hy al die tyd by ons is en dat ons ook persoonlik op sy begeleiding in elke situasie kan staatmaak, selfs al word die spesifieke nood nie presies opgelos soos ons dit wil hê nie. Terloops, Psalm 78 sal verder uitbrei op dié dade van God regdeur die woestyntyd tot en met Dawid, wat beteken die twee Psalms kan as ‘n eenheid gelees word. In vers 65 van Psalm 78 word God se ingrype geteken as ‘n held wat uit die slaap wakker word en optree om sy mense te verlos, wat eintlik as ’n antwoord op die bekommernis van Psalm 77:11 gesien kan word: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos voorheen gedoen het nie.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar