Skip to main content

Psalm 109:1-5

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 109 is die tweede Dawidspsalm aan die begin van die 5de Psalmboek. Die Psalm handel oor Dawid wat deur sy vyande geteister word en wat tot die Here om hulp roep weens die “karakter moord” (soos Derek Kidner dit noem) wat hulle pleeg. In drie dele bied Dawid in Psalm 109 ‘n konteks vir sy klag (Ps. 109:1-5), spel die optrede uit wat hy verwag teen hierdie tipe vyandigheid, verpersoonlik deur van die vyand in die enkelvoud te praat (Ps. 109:6-19), en hef ‘n roerende smeekgebed tot God aan dat God sal optree en dinge sal regstel (Ps. 109:20-31). Weereens is dié Psalm besonder geskik as model wanneer ‘n mens in ‘n soortgelyke situasie kom: 1) Beskryf die konteks vir die Here, 2) vra vir optrede teen die vyande (weliswaar gesien deur die bril van Christus), en 3) pleit dat Hy dit sal regstel. Ons lees en bid dit in drie dele.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier. ’n Dawidspsalm. O God, vir wie ek prys, moenie stilbly nie, want bose en vals mense kla my aan en vertel leuens oor my. Hulle omring my met woorde van wraak en sonder rede val hulle my aan. As antwoord op my liefde is hulle my aanklaers, en dit terwyl ek vir hulle bid! Hulle vergeld my kwaad vir goed en haat vir die liefde wat ek gee.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis se pleitrede aan God begin in vers 1 met ‘n kort lofprysing: “O God, vir wie ek prys”, iets wat hom herinner daaraan dat God bestaan en dáár is vir hom. En hy vervolg met ‘n ewe kort en kragtige pleidooi: “moenie stilbly nie, want bose en vals mense kla my aan en vertel leuens oor my.” Letterlik staan daar: “moet U nie doof hou nie.” Inderdaad: God is immers daar. Moet net nie stilbly nie, Here! Hy stort sy hart uit voor die Here oor die tragedie dat die liefde waarmee hy ander hanteer het deur hulle met vyandskap beantwoord is. Hulle vergeld hom met kwaad vir goed en met haat vir liefde, al was hy die een wat aanvanklik vir die aanklaers gebid het. Hierdie tipe gebed is altyd in alle situasies die korrekte, om eerlik met die Here jou leed weens ander met Hom deur te gesels. Ook in die lig van die boodskap van Christus in die NT. Jesus het immers in Getsemane sy eie nood voor God gebring, al het Hy uiteindelik die kruispad aanvaar. Oor die NT perspektief egter eers môre.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar