Skip to main content

Psalm 108:1-5

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die vyfde Psalmboek is daar 15 Psalms wat aan Dawid toegeskryf word (Ps. 108; 109; 110; 122; 124; 131; 133; 138–145). Hulle is hier geplaas weens inhoudelike en tematiese redes. Psalm 108 word bv. inhoudelik saamgestel uit dele van twee vorige Psalms van Dawid (Ps. 57 en 60) in die 2de Psalmboek (Ps. 42-72). Psalm 109 fokus op persoonlike aanvegting, en Psalm 110 op die Messiaanse belofte aan Dawid. Psalm 57 is geskryf met Dawid se vlug vir Saul die grot in, waar hy ten spyte van die gevaar by God skuiling gevind het. Psalm 60 is geskryf met die oorwinning oor die Arameërs na God hulle eers verstoot het. Dele van dié twee Psalms – Ps. 57:7-11 en Ps. 60:5-12 – word nou hier hergebruik as ‘n lofprysing aan God vir die verlossing uit ballingskap (en ander grotte of gate waarin hulle hulle bevind het) asook as ‘n gebed dat God hulle sal help in die konteks van nuwe vyande. Daarmee wys die samestellers van die vyfde Psalmboek ook vir ons hoe ons self die Psalms kan inspan in ons eie diverse omstandighede. Dié Psalms is daar vir hergebruik en vir aanpassing in die pad wat ons self met die Here loop. Ons kan saam met die Psalm vir God loof vir vorige uitkomste, en Hom smeek vir nuwe uitkomste. Die Psalm word in twee dele opgedeel: Psalm 108:1-5 – Lofprysing vir God se trou en waarheid; Psalm 108:6-14 – Gebed om hulp in verdere gevaar. Ons lees dit oor 2 dae.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. ’n Lied. Ek vertrou geheel en al op U, o God. Ek wil sing, ja, U heelhartig eer. Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak! Voor die volke wil ek U prys, Here, onder die nasies wil ek u lof besing. Want u trou is hoog bo die hemele, u waarheid reik tot in die wolke.” NLV

Boodskap en betekenis

Dink vandag aan ‘n situasie waarin jy self (of iemand naby aan jou) in ‘n gat geval het of in ‘n grot moes gaan wegkruip het… en die Here jou daaruit verlos het. Stel jouself voor dat jy soos Dawid na sy verlossing uit ‘n grot in die oopte gaan staan sing, die rooidag wakker maak, omdat God jou situasie verander het. Om die waarheid te sê, die nasies moet hiervan kennis neem. God se liefde reik tot in die hemel, sy trou tot in die wolke. Maak dié dag daarom ‘n dag van lofprysing vandat jy opgestaan het: “maak die rooidag wakker!” En praat daaroor met mense: “God se liefde reik tot in die hemel, sy trou tot in die wolke.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar