Skip to main content

Psalm 25:1-7

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 25 is ’n akrostiese Psalm. Elke vers begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet (behalwe vers 18 en 22 wat vers 17 en 21 onderskeidelik uitbrei). Dit help met die onthou van die Psalm (ten minste vir die Jode!). En dit help ook in hierdie Psalm se geval om simbolies gesproke die “alfabet van geestelike groei” aan te leer. Want dit is die behoefte van Dawid. Om die pad wat regverdiges kies (Psalm 1) enduit met integriteit en opregtheid te loop, al is dit uitdagend. Om die waarheid te sê, hy weet dit is onmoontlik om die pad te loop sonder God en sonder dat Hy in alles betrokke is by ’n mens se lewe. Die belangrikste boodskap in die eerste deel van die Psalm is in vers 1-2, dat die basis van die geestelike lewe in vertroue gevind word. Die Psalmis rig hom daarom tot God in die vertroue dat God hom nie in die steek sal laat nie (vers 2). Dit is immers die ervaring van almal wat hul verwagting in God gestel het, dat God die moeite werd is om te vertrou (vers 3). Daarop maak Dawid dus staat. Sy verwagting is dat God hom sy wil sal leer en nie sy sonde teen hom sal hou nie. In vers 4-5a brei hy uit oor sy gewilligheid om deur God onderrig te word, en in vers 5b-7 oor sy afhanklikheid van God se goedheid en vergifnis.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Ek rig my tot U, Here. Ek vertrou op U, my God! Moenie dat ek in die skande kom, of my vyande oor my laat juig nie. Niemand wat op U wag, word ooit beskaam nie, maar húlle word beskaam wat bedrieg sonder oorsaak. Here, wys my die weg wat ek moet gaan, leer my u paaie. Lei my deur u waarheid en leer my, want U, o God, is my redder. Die hele dag wag ek vol hoop op U. Dink, o Here, aan u liefde en medelye, van altyd af deur U bewys. Moenie dink aan die opstand en die sonde van my jeug nie; Here, dink eerder aan my met troue liefde, ter wille van u goedheid.” NLV

Boodskap en betekenis

Leerbaarheid en afhanklikheid is twee eienskappe wat voortspruit uit vertroue. Wat natuurlik ook beteken dat dit eintlik net die Here self is wat jou kan leer wat jy moet weet (vgl. Jer. 31:34, waar dit deel van die visie vir die toekoms is, dat elkeen deur die Here geleer sal wees, soos Hebr. 8:11 dit ook aanhaal). Dink veral na oor die lewensveranderende gedagte dat God dié wat Hom vertrou in sy vertroue neem en hulle in sy waarheid lei. Watter belofte! Dit skep die verwagting dat die Here jou al hoe meer sal ken in wat Hy besig is om te doen. Dié gedagte sal jou gebedslewe transformeer na ‘n daaglikse Godservaring! Want, sê Paulus op grond van hierdie Psalm, “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” (Rom. 10:11; vgl. in die NT: Rom. 5:5; Fil. 1:20; vgl. in die OT: Jes. 28:16; 49:23).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar