Skip to main content

Psalm 112

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 112 is soos 111 ‘n akrostiese Psalm. Elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet. Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 111 en 113 dit ook is. Soos ek gister gesê het, Psalm 112 en 111 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade, barmhartigheid, en voorsienigheid. In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf. In Psalm 112 word dit nou as die gelowige se karakter en werk beskryf. Elke opeenvolgende reël van die Psalm skets ‘n aspek van die gelowige se lewe voor God en voor die mense, soms in kombinasie met ‘n ander reël. Op grond van die beklemtoning van sy ontsag vir God se gebooie in vers 2 en die feit dat hy daarom vir slegte tyding nie bang is nie, kan die Psalm in twee dele gedeel word, maar dit is maar net om die boodskap op ‘n manier op te som: Ontsag vir God se gebooie bring vreugde (Ps. 112:2-6) en, Vertroue op God verdryf die vrees vir slegte tyding (Ps. 112:7-10).

Bid die Psalm

“Prys die Here! Geseënd is hy wat die Here dien, hy wat met groot vreugde sy gebooie onderhou. Sy kinders sal magtig wees op aarde; die nageslag van die opregte sal geseën wees. Oorvloed en rykdom vul sy huis, sy regverdigheid duur vir altyd. Vir die opregte skyn die lig te midde van die duisternis. Hy is genadig, barmhartig en getrou. Dit gaan goed met die mens wat vrygewig is en uitleen, wat sy sake in billikheid bedryf. Die regverdige sal nie struikel nie, en sal altyd onthou word. Vir slegte tyding is hy nie bang nie: hy is gerus, hy vertrou op die Here. Hy voel veilig en is sonder vrees en sien die neerlaag van sy vyand. Hy gee ruim vir hulle in nood. Sy goeie dade word altyd onthou. Hy sal aansien hê en eer ontvang. Die bose mens sal dit sien en woedend wees. Hy sal op die tande kners van woede. Maar die begeerte van die goddelose sal op niks uitloop.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 112 herhaal die belangrike paradigmatiese boodskap van Psalm 1: “Hoe gelukkig is die mens wat ontsag het vir die HERE, wat groot vreugde vind in sy gebooie.” En voeg daaraan by: “Sy nageslag sal magtig wees in die land — ‘n geslag opregtes wat geseën word.“ Dit is die beginsels van ‘n geseënde en gelukkige lewe, die “ABC” van ‘n gesonde geloofslewe. Dit is die basis vir die oorvloed wat ‘n mens selfs in die voorsiening van die Here kan beleef. Dit is ook die basis van ‘n lewe wat ‘n nalatenskap laat. Let op hoe wonderlik sulke mense vir hulle medemense is: “Hy skyn in die duisternis as ‘n lig vir die opregtes.” Hoekom? Want hy of sy is genadig, barmhartig, regverdig, goedhartig en eerlik. Jy kan op hom of haar staatmaak, want hulle wankel nooit nie. Hulle nalatenskap sal vir altyd in die herinnering bly. Omdat die gelowige ‘n ontsag vir God het, dryf dit die vrees vir slegte tyding uit. Sy hart kan standvastig bly, want Hy vertrou op die Here. Hy hoef nie bang te wees nie, want hy weet in die lig van God se grootsheid en betroubaarheid, hoef hy nie vir teenstanders bang te wees nie. Trouens, in sy goedhartigheid en regverdigheid, styg juis sy aansien en waardigheid. Goddelose mense sien dit raak, kners op hulle tande van woede, maar kan niks aan die aansien en waardigheid doen nie. Dit maak hulle moedeloos, want selfs al sou hulle slaag om iemand dood te maak, sal dit niks doen aan die “lig” wat uit hulle lewe skyn nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar