Skip to main content

Psalm 81:9-17

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel van Psalm 81 word die volk weer opgeroep om na God alleen te luister deur na die wet te verwys, spesifiek die eerste twee gebooie. Daaraan word ‘n belofte gekoppel: “Maak julle mond wyd oop, dan sal Ek dit vol maak.” ‘n Mens moet hierdie uitnodiging en belofte goed hoor, voor jy die res van die Psalm se waarskuwing lees dat dié wat ongehoorsaam is, die prys vir hulle koppigheid sal betaal. Gelukkig daarteenoor sluit die Psalm af met ‘n boodskap van seën vir dié wat wel gehoor gee.

Bid die Psalm

““Luister, my volk, Ek wil julle waarsku. Israel, as julle maar net na My wou luister! Julle mag nie ’n ander god dien, of voor ’n vreemde god buig nie. Want Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het. Maak julle mond wyd oop, dan sal Ek dit vol maak. “Maar nee, my volk het nie geluister nie. Israel wou niks van My weet nie. Daarom het Ek hulle laat begaan, hulle prysgegee aan hulle koppigheid om te doen volgens hulle eie begeerte. Ag, as my volk maar na My wou luister! As Israel net my weg wou volg! Dan sal Ek gou hulle vyande onderwerp, hulle aanvallers eiehandig verslaan!” Mag hulle wat die Here haat, voor Hom kruip. Mag hulle onderwerping vir altyd geld. Maar Hy sal julle versadig met die beste koring. Ek sal julle versadig met heuning uit ’n rots.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n Psalm wat vir George Müller besondere betekenis gehad het. George se vrou, Mary, se pa is in 1835 oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf. Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel. Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie. In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld? Toe lees George Psalm 81:11: “Maak julle mond wyd oop, dan sal Ek dit vol maak.” Hy het besluit om op God alleen vir voorsiening te vertrou en nooit in al sy jare van bediening vir iemand geld gevra nie. Die Here het sy vertroue geëer en gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee. Inderdaad: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee” (vers 11 in 1983-vertaling). ’n Belofte uit dié Psalm wat menige lewe al aangeraak en verander het. Trouens, in die oorspronklike Hebreeus staan daar: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit”! Die prentjie van ’n klein voëltjie in ’n nessie wat wag vir die kos wat sy ma of pa bring, inspireer my verbeelding om dieselfde, en méér, van God te verwag!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar