Skip to main content

Psalm 76

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 76 word in die Griekse vertaling van die OT verbind aan God se oorwinning oor Sanherib in die tyd van koning Hiskia.  Die tipe oorwinning wat in die Psalm beskryf word, pas besonder goed by dié geveg in die tyd van Hiskia omdat die oorwinning daar behaal is sonder dat enige een van Israel eers nodig gehad het om ’n wapen op te tel.  God het namens hulle geveg en hulle verlos (vgl. 2 Kon. 19; Jes. 37). Wat uitstaan van hierdie Psalm, is dat dit ’n verstommende uitspraak maak oor God se werk.  In plaas daarvan dat menslike woede God ontstel, gebruik Hy dit in sy diens (vers 11): “Wat nog daarvan oorbly, gebruik U in u diens”  Dit kan óf beteken dat dié wat vir God kwaad is, uiteindelik Hom sal moet loof, óf dat God se oordeel oor dié wat Hom teëstaan lof by God se mense sal ontlok. Laasgenoemde pas beter in die konteks van die verhaal van Sanherib in, maar in albei gevalle teken die Psalmis ’n prentjie van God wat teëstand transformeer tot ’n triomf vir Homself. Dit is waarom God met ‘n leeu vergelyk word in vers 2, soos ’n mens kan aflei in die beskrywing van God wat vanuit sy skuilplek in die stad Jerusalem (Salem), sy lêplek in die tempel op Sion, optree om sy teëstanders se aanvalle af te weer en hulle oorlogswapens te vernietig.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Asafpsalm. ’n Lied. God het Hom bekendgemaak in Juda; sy Naam is groot in Israel. Hy woon in Salem; Sionsberg is sy woning. Daar het Hy die brandpyle vernietig, skilde, swaarde en oorlogswapens. Sela Die glans van u verskyning is heerliker as die hoogste berge. Dapper soldate is geplunder, in hulle slaap oorweldig. Geen soldaat kon ’n hand oplig nie. Toe U hulle bestraf, o God van Jakob, het ruiter en perd dood neergeval. U moet gevrees word, ja, U! Wie kan voor U standhou wanneer u toorn ontbrand? Uit die hemel het U uitspraak gelewer; die wêreld was bang en stil. God het opgestaan om te oordeel, om die verdruktes op aarde te red. Sela Die woede van mense – dit verander U tot lof. Wat nog daarvan oorbly, gebruik U in u diens. Maak geloftes aan die Here jou God, en voer dit uit. Laat almal rondom Hom geskenke bring aan Hom, die Ontsagwekkende. Hy breek die moed van prinse; konings van die aarde is bang vir Hom.” NLV

Betekenis en boodskap

Hierdie Psalm bemoedig my met die beeld van God wat namens sy kinders optree en vir hulle veg.  Hy is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek.  Sy woede is gerig teen dié wat ons wil benadeel.  Hy sal reg laat geskied, selfs sonder dat ons ’n vinger hoef te verroer.  Só ’n God verdien ons hele lewe as ’n geskenk uit dankbaarheid vir wie Hy vir ons is. Maar, let op dat God nie sommer kwaad raak vir niks nie. Sy woede ontbrand ter wille van die “verdruktes op die aarde” om hulle te verlos. Wat beteken dat as dít is wie God is, as die saak van verdruktes ernstig neem, beteken dit dat sy mense hulle ook oor verdruktes moet bekommer en vir hulle saak moet opstaan. Daarom is die enigste gepaste reaksie teenoor dié God wat teëstand transformeer in triomf vir Homself, om in dankbaarheid teenoor Hom te leef, jou dankoffers te bring as geskenke wat hulde bring aan die Ontsagwekkende, voor wie die hele aarde sidder.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…