Skip to main content

Psalm 69:20-30

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid draai nie doekies om in die derde deel van die Psalm nie!  Hy wil nie net sy vyande uit die lewe geruim hê nie.  Hulle moet tot nie-bestaan vernietig word.

Bid die Psalm

“U ken die beledigings, die vernedering en die skande; U het al my vyande gesien. Hulle beledigings het my gebreek, en ek is radeloos. Ek het gesoek vir meegevoel, maar tevergeefs; vir ’n bemoediger, maar daar was niemand. In plaas van kos gee hulle my gif; hulle gee asyn om my dors te les. Laat die feesmaal op hulle tafel ’n strik word. Laat hulle welvaart hulle ondergang wees. Laat hulle oë blind word, en hulle liggame al swakker. Stort u woede uit op hulle; laat u brandende toorn hulle verteer. Mag hulle wonings leeg staan en hulle tente verlate. Hulle vervolg die een wat U reeds getref het en vertel van die pyn van dié wat U deurboor het. Stapel hulle sonde op sodat hulle nie sal deel in u vryspraak nie. Wis uit hulle name uit die Boek van die Lewe sodat hulle nie as regverdiges opgeteken sal word nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid gebruik hier harde woorde wat sy woede verwoord teenoor sy vyande. Dat vyf van hierdie elf verse in die NT aangehaal word, wys ook hoe belangrik dié Psalm was vir Jesus en die vroeë kerk in hulle verwoording van die evangelie. Die betekenis van hierdie verse is egter in die NT op bepaalde wyses aangepas aan die hand van die boodskap van die kruis. Ek gee dit in ‘n tabel sodat jy dit self kan nagaan. Ons kan die Psalm dus in die lig van Jesus se kruisdood nie meer presies op dié manier bid nie. Hy het immers vryspraak gebied vir dié wat Hom gekruisig het. Maar, soos die aanhaling in Romeine 11 wel wys, bly die toorn van God op dié wat die aanbod van vergifnis nie aanvaar nie.

Ps. 69:22 Joh. 19:29 (vgl. Mark 15:23,36; Matt. 27:34,48; Luk. 23:36)
22Toe ek honger was,

het hulle my gif aangebied,

toe ek dors was,

wou hulle my asyn laat drink.

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Ps. 69:23-24 Rom. 11:9-10
23Laat hulle feeste hulle tot ’n val bring

en hulle offermaaltye

hulle ondergang wees.

24Laat hulle stokblind word,

laat hulle gebreklik word.

9En Dawid sê:

“Mag hulle maaltye vir hulle

’n vangstrik en ’n val word

en ’n struikelblok en ’n straf.

10Mag hulle oë verduister word

dat hulle nie sien nie;

en buig hulle rug vir altyd krom.”

Ps. 69:26 Hand. 1:20
26Laat hulle blyplekke verwoes word

sodat daar niemand oor is

in hulle wonings nie,

18“Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. 19Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.

20“In die boek van die Psalms staan daar:

Laat sy woonplek leeg word;

laat niemand daarin woon nie,

en:

laat ’n ander sy amp oorneem (vgl. Ps. 109:8).

Ps. 69:29 Fil. 4:3; Openb. 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27
29Skrap hulle name

uit die boek van die lewe

dat dit nie saam met dié

van die regverdiges

opgeskryf staan nie!

Al dié tekste praat van die boek van die lewe, maar het ’n meer positiewe hantering daarvan as in die Psalm.  Die boek van die lewe kom van die begin van die Skepping af.  God besluit self wie se name daar ingeskrywe word, hoewel Paulus ook oortuig was dat van sy medewerkers se name daarin geskrywe was (Fil. 4:3).  Dit is ’n boek wat aan Jesus, die Lam, behoort.  Die regverdiges se name word nooit uitgewis daaruit nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar