Skip to main content

Psalm 4

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Weereens moet Dawid sy geloof en vertroue in God alleen stel, al is daar baie teenstand van (naby?)-mense wat dié geloof en vertroue bespotlik maak en eintlik hulle ongeloof demonstreer dat God enigsins kan optree. Dawid is oortuig dat die Here steeds wonders doen vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Vers 5 is waarskynlik ’n stukkie lewenswysheid wat Dawid neerpen – midde in sy gebed – wat ons leer dat ’n mens nie self negatief op ongelowige perspektiewe moet reageer nie, en op die Here alleen moet vertrou: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!“

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm, met begeleiding van snaarinstrumente. Antwoord my wanneer ek roep, my regverdige God! U staan my by in my verknorsing. Wees my genadig en hoor my gebed. O mensdom, hoe lank sal julle my goeie naam beklad? Hoe lank sal julle valse beskuldigings maak? Hoe lank sal julle leuens najaag? Sela Hiervan kan julle seker wees: Die Here het besondere genade aan die getroues bewys. Die Here sal antwoord wanneer ek tot Hom roep. Moenie sondig as jy ontsteld is nie. Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig. Sela Bring die voorgeskrewe offers en vertrou op die Here. Baie mense sê: “Wie sal vir ons goeie dinge wys?” Laat u glimlag oor ons skyn, Here! U het vir my meer vreugde verskaf as dié met graan en wyn in oorvloed. Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon.” NLV

Boodskap en betekenis

Die uitsonderlike uitdagings in die lewe moet ons nie verlei om die normale dinge wat God van ons vra, na te laat nie (bv. offers in Dawid se tyd – geestelike offers [ons hele manier van lewe] in ons tyd – 1 Pet. 2:5 en Rom. 12:1-2). Ons moet dié dinge bly doen, terwyl ons Hom vertrou vir die uitdagings. Dra veral sorg dat jy nie self sondig in die proses nie, soos Paulus op grond van vers 5 ons waarsku: “Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie.” (Ef. 4:26-27 NLV). Dan kan ons met oorgawe fokus op wat God gaan gee en bring dit rus in ons gemoed – soos Dawid sê – wat ons rustig laat slaap en veilig laat woon. En dink net – as dit waar sou wees dat Dawid dié gebed bid terwyl hy besig is om te vlug van Absalom – met hoeveel meer oortuiging jy in jou eie krisisse op hierdie vrede-stigtende God kan staatmaak. Gebruik die Psalm om die konflikte in jou lewe voor die Here te bring en vir sy “glimlag” te vra.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar