Skip to main content

Psalm 15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die volgende tien Psalms – Psalm 15 tot 24 – fokus op die sentrale rol wat die tempel speel as plek waar God se teenwoordigheid beleef en gevier kan word, beide in die hemel as op die aarde. Met dié Psalms word ons uitgenooi om God se teenwoordigheid op te soek en vanuit die invloed wat Hy in ons hele bestaan het, te leef. Watter vreugde is Psalm 15 waarmee die reeks begin. Kort, kragtig, helder!  Die belangrike punt wat die Psalm maak, is dat jou lewe met ander mense volledig verweef is met jou lewe met God. Hoe jy leef, prakties, elke dag, berei jou voor om in God se teenwoordigheid te leef, en andersom. Jou alledaagse lewe beïnvloed jou geestelike lewe, en jou geestelike lewe beïnvloed jou alledaagse lewe.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Here, wie mag dit waag om in u teenwoordigheid te kom? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met ’n opregte hart die waarheid praat; wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie; wat dié wat aanhou sondig, verfoei, húlle eer wat die Here dien, en beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel; wat nie geld op rente uitleen nie, en nie omkoopgeld teen onskuldiges aanvaar nie. ’n Mens wat so optree, sal vir altyd stewig staan.” NLV

Boodskap en betekenis

Dié Psalm fokus op ‘n lewe wat beide in die teenwoordigheid van God geleef word, sowel as in die gemeenskap met ander mense. ‘n Mens sou kon sê: 1) Practicing the Presence of God moet in jou verhouding met mense gebeur, EN 2) Practicing the Presence of people moet in jou verhouding met God gebeur. ’n Mens se woorde en dade moet ’n koherente integriteit hê wat beide in jou godsdiens as in jou gedrag gesien kan word. Gebruik die Psalm om in die Here se teenwoordigheid tot rus te kom. Oorweeg elkeen van die riglyne vir die lewe en maak dit prakties deel van jou lewe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar