Skip to main content

Psalm 39:7-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die laaste twee dele van die Psalm (geskei deur die Sela) reflekteer Dawid oor die verganklikheid van die mens waar die hoop nie in rykdom of eie geregtigheid lê nie, maar in God self. Die enigste hoop om hierdie lewe met ‘n glimlag te leef,  lê in God se hulp en redding.

Bid die Psalm

“Die mens is net ’n bewegende skaduwee. Al sy gejaagdheid is tevergeefs: Hy versamel rykdom, maar weet nie wie dit gaan gebruik nie. Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop. Red my van my oortredings. Moenie dat ek die spot van dwase mense word nie. Ek swyg voor U. Ek sal nie ’n woord sê nie, want U het dit gedoen. Neem tog u beproewing weg van my! Ek is uitgeput weens die las wat U op my lê. As U ’n mens straf oor sy sondes, verteer U dit wat hy begeer soos ’n mot. Daar is geen twyfel nie: Elke mens is waarlik verganklik. Sela Luister tog na my gebed, Here! Luister na my geroep om hulp! Moenie my trane miskyk nie. Want ek is soos ’n vreemdeling by U, ’n bywoner soos my voorouers. Spaar my lewe sodat ek weer kan glimlag voordat ek doodgaan en nie meer bestaan nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Terwyl Dawid vra dat hy van teëstanders en dwase verlos sal word, selfs ook van sy eie oortredings, is sy verwagting uiteindelik net in God se besluit en optrede geleë. En vra Dawid dat hy weer blydskap sal ervaar in God se teenwoordigheid. Dawid hou hier rekening daarmee dat niks van wat hy ervaar buite God se betrokkenheid by sy lewe gebeur nie. Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to His action.” (The Responsible Self).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar