Skip to main content

Psalm 103:19-22

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die persoonlike en korporatiewe lofprysing vir God se wese en werk mond nou uit in ’n universele lofprysing vir God se heerskappy oor alles. Die engele en hemelwesens word saam met alles wat Hy gemaak het, opgeroep om Hom te prys op al die plekke waar Hy heers. ’n Mens kan weereens die vertikale en horisontale dimensies in die beskrywing van God se heerskappy sien in die manier waarop die hemelse lofprysing gekombineer word met die aardse lofprysing as in die wyse waarop die verlossende vergifnis van die Here vroeër beskryf word. En die Psalm sluit af met dieselfde oproep aan homself as wat hy in vers 1 gedoen het: “Ek wil die Here prys!”

Bid die Psalm

“Die Here het sy troon in die hemel gevestig; Hy heers oor almal. Prys die Here, julle magtige engele, julle wesens wat sy woord uitvoer, wat luister na sy woord! Ja, prys die Here, sy hemelse leërmagte wat Hom dien en sy wil uitvoer! Prys die Here, al sy skeppingswerke, oral in sy koninkryk. Ek wil die Here prys.” NLV

Die boodskap van die Psalm

Dit is betekenisvol dat die eienskap van God wat die meeste in hierdie Psalm besing word, sy troue liefde (ḥěsěḏ) is: vers 4, 8, 11, 17. Sy troue liefde wys in sy verlossing in vergifnis, genesing en beskerming van die dood; in sy geduld en genade deur nie vir altyd toornig te wees nie; dat Hy ons nie vergeld volgens ons sondeskuld nie; dat Hy sy troue liefde vir altyd en in alle geslagte betoon. Dit bly een van die belangrikste beskrywings van wie God in sy wese is. Dat hierdie God die Een is wat doen wat reg is en die reg handhaaf vir almal wat verdruk word, dat Hy sy weë en dade daagliks aan ons openbaar, en dat Hy barmhartig, genadig, geduldig, en vol troue liefde is, vul my vandag met ’n groot dankbaarheid. Dat Hy wat ewig is boonop verantwoordelikheid neem om sy troue liefde deur die geslagte heen aan my nageslag en dié van ons geloofsgemeenskap te bewys, bring groot berusting in my en ontsag vir Hom. Ek kan daarom in antwoord op die boodskap van Psalm 103 alleen sê, soos Dawid: “Ek wil die Here prys met alles wat in my is!”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar