Skip to main content

Psalm 35:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 35 kan miskien die beste verstaan word teen die agtergrond van een of ander internasionale konflik wat Dawid met sy buurstate gehad het, waarskynlik een van Dawid se bondgenote, wat teen hom gedraai het. Die regstaal veronderstel een of ander vorm van verdrag wat verbreek is. Die situasie het oënskynlik so versleg dat oorlog onvermydelik geraak het, en die hele geloofsgemeenskap ingetrek word in voorbereiding vir die oorlog (soos dit ook die geval was met Psalm 20 en 21). In die eerste deel van Psalm 35 bid Dawid oor sy vyande wat hom sonder oorsaak vervolg en verguis – hetsy in ’n regs- of oorlogsomgewing. Dawid smeek die Here om vir hom in te tree en hom te verlos van hulle venyn en verraad. Hy maak veral staat op die Engel van die Here wat hulle soos kaf voor die wind sal wegvee.

Bid die Psalm

“Van Dawid. Kla dié aan wat my aankla, Here. Val húlle aan wat vir my aanval. Vat kleinskild en grootskild. Maak gereed en kom tot my redding. Neem u spies en werpspies op teen hulle wat my agtervolg. Laat ek hoor dat U sê: “Ek is jou redding!” Verneder hulle wat my lewe soek, en maak hulle tot skande. Laat hulle wat kwaad teen my beplan, in verwarring omdraai. Laat hulle wees soos kaf voor die wind wat die engel van die Here wegblaas. Maak hulle pad donker en glibberig terwyl die engel van die Here hulle agtervolg. Al het ek hulle geen kwaad aangedoen nie, het hulle vir my ’n strik gestel. Al het ek hulle nie benadeel nie, het hulle vir my ’n gat gegrawe. Daarom, laat sy verderf skielik kom: Laat hy in sy eie strik gevang word. Laat hy val in die gat wat hy gegrawe het.” NLV

Boodskap en betekenis

In enige situasie van aanvegting is dit nodig vir ‘n bidder om sy afhanklikheid van God te bely, selfs al sou hy, soos Dawid, oor baie vermoëns besit. Want, dit is nie die bidder se vermoë wat tel nie. Dit is God s’n. Dink daarom oor jou lewe, veral waar jy aanvegting ervaar, en bely jou afhanklikheid van God se ingrype. Bid dan dat Hy as jou Verlosser sal optree.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar