Skip to main content

Psalm 50:1-15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf (vgl. ook Ps. 73-83), een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese  sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron. 6:39).  Getrou aan die aard van ‘n sangleier van formaat, is dié Psalm in die vorm van ‘n liturgie, wat lofsang as ‘n sleutel deel van elke gelowige se geestelike lewe uitspel.  Trouens jy kan God nie reg vereer en dien as jy dit nie doen nie, sê Asaf. Lof bestaan vir Asaf ten diepste in die dankbare erkenning en verering van God se teenwoordigheid in alles. Dit is eintlik net die gebrek aan hierdie lof wat God se toorn laat ontvlam (Ps. 50:7), veral in reaksie op die goddeloses wat nie met Hom rekening hou nie (Ps. 50:22). God wil niks anders as lof van ons hê nie (Ps. 50:14), wat gelowiges die voorreg gee om ook nog tot Hom in nood te kan roep (Ps. 50:15).  Offers is nie vir Hom wesenlik nie, lof wel! Komende van die amptelike liturg, wie se familie baat gevind het by die offers, is dit nogal ‘n mondvol! Asaf se liturgie beslaan drie dele waarvan ons die eerste twee dele vandag doen: ‘n Oproep om te bely dat  Jahwe alleen God is – vers 1-6 – en ‘n Appèl aan die gelowiges om God te loof deur Hom te erken en vereer – vers 7-15. Môre sal ons die laaste deel hanteer – ‘n Appèl aan die goddeloses om met God rekening te hou – vers 16-23.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. Die Here is God, net Hy is God. Hy praat en roep die hele aarde op van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Vanuit Sion, in volmaakte prag, skyn God in heerlikheid. Ons God kom nader, maar nie in stilte nie: Voor Hom verteer ’n vuur en rondom Hom woed ’n storm. Hy roep die hemel en die aarde om sy getuies te wees wanneer Hy regspreek oor sy volk: “Versamel dié wat getrou is aan My, en met offers ’n verbond met My sluit.” Die hemele maak sy regverdigheid bekend, want God self is die regter. Sela “My volk, luister as Ek praat, Ek sal teen jou getuig, Israel. Ek is God, jou God! Dis nie weens jou offers dat Ek jou berispe, of oor jou brandoffers wat gedurig voor My is nie. Ek soek geen bul uit jou stal, of bokke uit jou kraal nie. Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge. Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne. Sou Ek honger wees, sal Ek jou dit nie sê nie, want aan My behoort die aarde en alles daarop. Eet Ek dalk die vleis van bulle, of drink Ek die bloed van bokke? Offer dankoffers aan God, en betaal jou geloftes aan Hom die Allerhoogste. Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer.”” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat hierdie liturgiese besig wees met God in lofsang nie opsioneel is nie.  Ek dink baie mense kom na ‘n erediens om na ‘n preek te luister.  En natuurlik is dit van veel waarde.  Maar ‘n erediens is baie meer as ‘n preekdiens.  Dit is ‘n liturgiese besig wees met God wat HY voorskryf.  Hy eis van ons lofsang, Hy luister na ons verering, ons erkenning van Hom in alles, en lofsang beweeg Hom om op nog meer maniere vir ons te sorg, veral wanneer ons Hom dan aanroep in die dag van benoudheid.  Lof is ‘n sleutel deel van jou geestelike lewe (vgl. Hebr. 13:15). Terloops – Paulus gebruik gedagtes uit hierdie deel van die Psalm in sy begronding van sy Godsbeeld in die preek op die Areopagus in Atene (Hand. 17:24-25).  Net so in sy voorskrif aan die Korintiese gelowiges om nie ander te veroordeel oor hulle eetgewoontes nie, want alles – ook die kos wat ons eet – behoort aan God en kan met dankbaarheid en erkenning van God geniet word (1 Kor. 10:26).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar