Skip to main content

Psalm 50:1-15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf (vgl. ook Ps. 73-83), een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese  sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron. 6:39).  Getrou aan die aard van ‘n sangleier van formaat, is dié Psalm in die vorm van ‘n liturgie, wat lofsang as ‘n sleutel deel van elke gelowige se geestelike lewe uitspel.  Trouens jy kan God nie reg vereer en dien as jy dit nie doen nie, sê Asaf. Lof bestaan vir Asaf ten diepste in die dankbare erkenning en verering van God se teenwoordigheid in alles. Dit is eintlik net die gebrek aan hierdie lof wat God se toorn laat ontvlam (Ps. 50:7), veral in reaksie op die goddeloses wat nie met Hom rekening hou nie (Ps. 50:22). God wil niks anders as lof van ons hê nie (Ps. 50:14), wat gelowiges die voorreg gee om ook nog tot Hom in nood te kan roep (Ps. 50:15).  Offers is nie vir Hom wesenlik nie, lof wel! Komende van die amptelike liturg, wie se familie baat gevind het by die offers, is dit nogal ‘n mondvol! Asaf se liturgie beslaan drie dele waarvan ons die eerste twee dele vandag doen: ‘n Oproep om te bely dat  Jahwe alleen God is – vers 1-6 – en ‘n Appèl aan die gelowiges om God te loof deur Hom te erken en vereer – vers 7-15. Môre sal ons die laaste deel hanteer – ‘n Appèl aan die goddeloses om met God rekening te hou – vers 16-23.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. Die Here is God, net Hy is God. Hy praat en roep die hele aarde op van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Vanuit Sion, in volmaakte prag, skyn God in heerlikheid. Ons God kom nader, maar nie in stilte nie: Voor Hom verteer ’n vuur en rondom Hom woed ’n storm. Hy roep die hemel en die aarde om sy getuies te wees wanneer Hy regspreek oor sy volk: “Versamel dié wat getrou is aan My, en met offers ’n verbond met My sluit.” Die hemele maak sy regverdigheid bekend, want God self is die regter. Sela “My volk, luister as Ek praat, Ek sal teen jou getuig, Israel. Ek is God, jou God! Dis nie weens jou offers dat Ek jou berispe, of oor jou brandoffers wat gedurig voor My is nie. Ek soek geen bul uit jou stal, of bokke uit jou kraal nie. Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge. Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne. Sou Ek honger wees, sal Ek jou dit nie sê nie, want aan My behoort die aarde en alles daarop. Eet Ek dalk die vleis van bulle, of drink Ek die bloed van bokke? Offer dankoffers aan God, en betaal jou geloftes aan Hom die Allerhoogste. Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer.”” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat hierdie liturgiese besig wees met God in lofsang nie opsioneel is nie.  Ek dink baie mense kom na ‘n erediens om na ‘n preek te luister.  En natuurlik is dit van veel waarde.  Maar ‘n erediens is baie meer as ‘n preekdiens.  Dit is ‘n liturgiese besig wees met God wat HY voorskryf.  Hy eis van ons lofsang, Hy luister na ons verering, ons erkenning van Hom in alles, en lofsang beweeg Hom om op nog meer maniere vir ons te sorg, veral wanneer ons Hom dan aanroep in die dag van benoudheid.  Lof is ‘n sleutel deel van jou geestelike lewe (vgl. Hebr. 13:15). Terloops – Paulus gebruik gedagtes uit hierdie deel van die Psalm in sy begronding van sy Godsbeeld in die preek op die Areopagus in Atene (Hand. 17:24-25).  Net so in sy voorskrif aan die Korintiese gelowiges om nie ander te veroordeel oor hulle eetgewoontes nie, want alles – ook die kos wat ons eet – behoort aan God en kan met dankbaarheid en erkenning van God geniet word (1 Kor. 10:26).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…