Skip to main content

Psalm 122

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid reflekteer die vreugde van die aankoms van die pelgrims in Jerusalem. Die Psalmis was alreeds bly toe hulle weggetrek het na die huis van die Here, maar nou is sy voete in die poorte van Jerusalem, dié stad wat gebou is in die eerste plek as ‘n stad wat die volk as ‘n eenheid saamsnoer en waar die Here volgens sy eie voorskrifte geloof kan word. Nie net is dit in die tweede plek die stad waar die lofsange vir God weerklink nie, maar dit is ook in die derde plek die stad waar regspraak gelewer word onder die bekwame leiding van die koning. Dit is daarom ook die drievoudige seën van Jerusalem: dit skep eenheid onder die volk, dit bring lof aan God vanuit die geloofsgemeenskap, en dit bring vrede deur die regspraak wat billik en volgens God se voorskrifte geskied.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” Nou staan ons voete hier, binne-in jou poorte, Jerusalem. Jerusalem is ’n stad wat stewig gebou is, waarheen die stamme opgaan, die stamme van die Here. Dis ’n vereiste vir Israel dat die Naam van die Here daar geprys moet word. Daar staan die trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. Bid vir die vrede van Jerusalem, vir kalmte by almal wat jou liefhet. Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou paleise. Ter wille van my broers en vriende is my wens: “Mag daar vrede in jou wees!” Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek: “Mag dit goed gaan met jou!” NLV

Boodskap en betekenis

Omdat Jerusalem, die sentrum van die geloofsgemeenskap se aanbidding, só belangrik was, nooi die Psalmis sy medepelgrims uit om in die eerste plek te bid vir vrede vir Jerusalem, die plek self, sodat dié wat in hulle liefde vir die plek verenig is, rustig kan woon, en sy verdedigingswalle kan hou teen alle aanvalle en daar rustigheid in die vestings van die volk kan wees. In die tweede plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van gelowiges (familie en vriende) in Jerusalem sodat hulle vrede kan geniet. In die derde plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van die tempel, die plek van God se teenwoordigheid, in Jerusalem sodat dit altyd met hulle goed sal gaan. Dit is daarom ook die drievoudige gebed vir Jerusalem: die stad self het vrede nodig, die gelowiges het vrede nodig, en die tempel het vrede nodig, sodat die drievoudige seën, die eenheid onder die volk, die lof aan God en die vrede deur regspraak tot hulle reg kan kom. Ons onderskat soms die effek wat vrede kan hê op eenheid, lof en regspraak. Dit is daarom een van die mees basiese dinge waarvoor ons kan bid. Soos Paulus in die NT vir Timoteus oproep om sy mense te leer: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” (1 Tim. 2:1-2).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda