Skip to main content

Psalm 37:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Twee maniere van leef word weereens in hierdie wysheid Psalm met mekaar gekontrasteer, dié van die goddelose wat hom of haar nie aan God steur nie en dié van die gelowige wat dit wel doen – soos ons reeds in Psalm 1 en 36 gesien het. Wysheid lê in ’n God-gesentreerde lewe. Dwaasheid is om Hom te probeer vermy en ignoreer, en God-loos te probeer lewe. Die eerste deel van hierdie akrostiese Psalm, verkondig die waarheid dat die vertroue in God se regverdigheid uiteindelik beloon sal word.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Moenie jou vererg oor boosdoeners nie. Moenie die kwaaddoeners beny nie. Want soos gras verlep hulle gou. Soos plante verdroog hulle vinnig. Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veiligheid. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson. Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan liewer jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel. Want die bose mense sal vernietig word, maar dié wat op die Here vertrou, sal die land besit. Binnekort sal die boosdoeners nie meer daar wees nie; al soek jy na hulle, sal jy hulle nie kry nie. Maar sagmoediges sal die land besit, hulle sal oorvloedige vrede geniet.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat hierdie wyse woorde gerig word aan mense wat dit nie maklik het in die wêreld nie. Hulle lei onder skelms en skurke, het te kampe met boosdoeners en kwaaddoeners wat op hulle manier floreer. Die wyse optrede is dus om jou nie te vererg vir boosdoeners of kwaaddoeners te beny nie, maar te volhard op jou pad met die Here in die vertroue dat Hy jou hartsbegeertes sal gee. Die Here sal die goddelose en die kwaaddoeners uitroei, en die sagmoediges wat op die Here vertrou die aarde laat beërwe. Daarom kan jy stil wees in die Here en geduldig op Hom en sy tyd wag. Jesus sluit by hierdie belofte aan in die Bergrede met sy eerste saligspreking (Matt. 5:5). Gelukkig is dié mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is, wat nie net voortgaan om Hom in alles met integriteit te dien nie, maar die uitkoms van hulle begeertes aan God oorlaat. Dit is hulle wat regtig gelukkig sal wees.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar