Skip to main content

Psalm 82

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is ‘n kort Psalm van Asaf, maar een wat soos geen ander Psalm is nie.  Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God staan op in die hemelse vergadering. Tussen die hemelse wesens (êlôhîm) lewer Hy uitspraak…” as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Kom, o God, en oordeel die aarde, want al die nasies behoort aan U.” Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in: 1) die verhalende gedeeltes van die OT: 1 Konings 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei; 2) die wysheidsliteratuur: Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende tonele waar die Satan voor God verskyn; 3) nog een ander Psalm, Psalm 89:6-8 – waar die Here as onvergelykbaar met die “hemelse wesens” beskryf word, en vir Wie “die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag” het; 4) die profete: Jes. 6:1–13 – Jesaja se troonsaal visie waar die serafs optree (vgl. ook Jes. 40:1–8 en Sag. 1:7–17; 3:1–5); en natuurlik ook 5) die Openbaring aan Johannes (Openb. 4 en verder in verskeie tonele). Maar, hierdie hemelse vergadering in die Psalm is tog anders.  Hy sit nie, soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” (êlôhîm) ernstig aan oor hulle vergrype en agtelosigheid en beëindig hulle status en invloed, en laat hulle sterwe soos ‘n “mens” (adam).

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. God staan op in die hemelse vergadering. Tussen die hemelse wesens lewer Hy uitspraak: “Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel? Sela “Laat reg geskied aan armes en wese. Verdedig die saak van die hulpelose en behoeftige. Bevry die armes en die behoeftiges; verlos hulle uit die greep van goddelose mense. Maar hulle weet nie en verstaan nie. Hulle lewe in duister terwyl die fondamente van die aarde skud. Ek het wel gesê: ‘Julle is gode, seuns van die Allerhoogste.’ Maar nee! Julle sal sterf soos ’n mens, soos enige maghebber sal julle val.” Kom, o God, en oordeel die aarde, want al die nasies behoort aan U.” NLV

Boodskap en betekenis

Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn (vgl. Eks. 21:6; 22:6-7, 8, 27; 1 Sam. 2:25 vir dié betekenis van die woord). Die feit dat hierdie “gode” as deel van die hemelse vergadering geteken word, en ook gekontrasteer word met “mense” in vers, is ‘n sterk aanduiding dat die vertaling korrek is om die “gode” as hemelse wesens te interpreteer. Dit is egter ook baie duidelik uit die konteks van die Psalm dat hulle werk ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het.  In ’n oordragtelike sin kan die “gode” dus ook op mense dui wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering – wat daaroor deur God aangespreek word.  Hierdie “gode” dui dus op hemelse wesens en mense wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf. In die NT verwys Jesus ook na Psalm 82. Hy sê in Johannes 10:34-36: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?” Die argument wat hier Jesus gebruik, is om te sê, as geskape wesens “gode” genoem kan word, omdat hulle God se woorde ontvang het (soos God dit aan die begin van die Psalm doen) hoe kan die Jode dan beswaar hê as Jesus dieselfde doen, want Hy is inderdaad die Seun van God, en dit is dieselfde God wat Hom as sy Seun na die wêreld toe gestuur het. Hoe dit nou ook al sy, die boodskap van Psalm 82 is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges.  Hoekom?  Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies.  Hy is nie onregverdig en partydig nie.  Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied.  Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word.  En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk, in die hemel en op die aarde. Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige, onbarmhartige plek maak. Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges.  “Staan op, o God…” Stel dinge reg.  En as geloofsgemeenskap moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda