Skip to main content

Psalm 59:1-6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die derde Psalm in die reeks, Ps. 57-59, wat op die wysie van “Moenie verwoes nie” vir die koorleier aangedui word, word verbind met die verhaal van Saul wat opdrag gegee het dat Dawid se huis omsingel word om hom dood te maak. Dit is dus ’n diep persoonlike Psalm in ’n situasie van groot gevaar. Telkens word die historiese situasie egter ook wyer geïnterpreteer as metafoor vir die bedreiging van die nasies (vers 6,9) en het die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap (vgl. die meervoud in vers 12 “ons skild” (of “Beskermer”) en die hoop op die universele getuienis van God se verlossing in vers 14). Ons vind dié verhaal in 1 Samuel 19, terwyl Dawid nog vir Saul in sy huis op die lier gespeel het. Saul het dié dag met sy spies in sy hand gesit toe ”’n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is,” oor Saul gekom het, en hy geprobeer het om Dawid met die spies dood te maak. Dawid het egter gekoes en gevlug vir sy lewe na sy eie huis. Saul het toe van sy mense na Dawid se huis toe gestuur “om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.” Dawid se vrou Mikal, Saul se dogter, het hom egter gewaarsku dat hy moet vlug anders word hy doodgemaak. Sy het hom deur die venster laat afsak en hy het só ontsnap. Mikal het gemaak asof hy nog daar is en ‘n afgodsbeeld op die bed met ’n bokhaarnet om die kop gedraai en dit met ’n kombers toegemaak. Toe Saul se mense vir Dawid die volgende oggend kom soek, het sy gesê hy is siek. Saul het hulle egter beveel om hom met bed en al na hom te bring sodat hy Dawid kon doodmaak. Toe eers het hulle agter gekom Dawid is weg. Saul was baie kwaad vir Mikal, maar sy het sy gramskap ontwyk deur Dawid te beskuldig dat hy haar met die dood gedreig het. Die Psalm is ’n diep persoonlike worsteling van Dawid met die geweld van sy vyande terwyl hy nêrens oortree het nie: “Hoewel ek onskuldig is, bestorm hulle my” Telkens word die gevaar van die nasies egter bygetrek waarmee die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap gekry het. Die Psalm kan in drie dele verdeel word: vers 2-6, vers 7-14, vers 15-18 – onder andere as gevolg van die Selas, asook die herhalende inhoud van vers 7 en 15 wat telkens ’n nuwe deel van die Psalm inlei. Ons lees vandag die eerste deel, en môre die res van die Psalm.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n Gedig. Na aanleiding van Saul se opdrag dat Dawid se huis omsingel moes word om hom dood te maak. Red my van my vyande, o God. Laat my vyande my nie in die hande kry nie. Bevry my van dié wat boosheid bewerk; red my tog van dié wat bloeddorstig is. Want kyk, hulle lê my voor. Gedugte mense span saam teen my al het ek nie oortree of gesondig nie, Here. Hoewel ek onskuldig is, bestorm hulle my, gereed vir die aanval. Ontwaak en help my! Kyk tog wat hulle doen! O Here, God die Almagtige, God van Israel, gryp tog in en straf al die nasies. Betoon geen genade aan bose verraaiers nie. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid vir God se hulp om hom te red, beskerm en bevry van sy vyande en teëstanders, mense wat onreg doen en moord wil pleeg. Dawid is ontsteld omdat hy nie oortree het nie en hulle hom onskuldig bestorm en aanval. Anargie heers. Daarom vra hy hulp van God. Let op hoe hy God met ’n driedubbele omvattende beskrywing aanspreek: “O Here, God die Almagtige, God van Israel!” Daarmee fokus hy op God se hulp as sy persoonlike God (Here), sowel as op Hom as die Een wat heers (God die Almagtige), en sy volk (God van Israel) beskerm teen die nasies. Trouens, hy smeek: “Betoon geen genade aan bose verraaiers nie.” Harde woorde, maar gewortel in die oortuiging dat God regverdig is en in sy almag in staat is om geregtigheid te laat geskied! Ons het nodig om dié kant van God vir onsself toe te eien in situasies van boosheid en doodsgevaar.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar