Skip to main content

Psalm 119:113-120

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die vyftiende deel van hierdie Psalm onderstreep die krag van God beide om te ondersteun en onderskraag sowel as om te verwerp en verwyder. God se openbaring struktureer die werklikheid op ‘n omvattende manier. Hy bepaal wat gebeur. Hy doen wat Hy openbaar. Hy self is getrou aan wat Hy sê, soos die Psalmis dit hier uitdruk met die woorde gebooie, woord, bevele/gebooie, voorskrifte, waarskuwings – vyf van die woorde wat in die Psalm daarvoor gebruik word. Om die openbaring van God met alles wat in jou is, na te volg, is dus nie net die beste pad nie. Dit is die enigste pad wat jy kan volg. Jou liefde vir God se openbaring, moet opgevolg word, en word verdiep deur, jou uitvoering en nakoming daarvan in die fynste detail. Hy is ‘n skuilplek en ‘n skild, ‘n plek van veiligheid en beskerming. Sy woorde is ‘n huis om in te woon. Dit is daarom dat die kontras tussen die gelowiges en die goddeloses geteken word in vers 117-118 deur te wys op die plek wat hulle aan God se openbaring in hulle lewe gee. Die Psalmis verklaar onomwonde dat hy voortdurend aan God se voorskrifte wil aandag gee. Die teenoorgestelde is waar van die goddeloses van die aarde wat van God se voorskrifte afdwaal. Nog erger is mense wat dubbelhartig is, d.w.s. huigel. Mense wat op die oog af instemming betuig met die woord van God, maar hulle lewens nie daardeur laat bepaal nie. Mense wat hoor, maar nie doen nie,

Bid die Psalm

“Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief. U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord. Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig. U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog. Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief. Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel.” NLV

Boodskap en betekenis

Dieselfde boodskap as in dié gedeelte van die Psalm word deur Jesus en Jakobus lank hierna uitgespel:

  • Jesus som die Bergrede op met die voorbeeld van die onverstandige man wat sy huis op die sand gebou het en nie kan standhou in die reën nie versus die verstandige met sy huis op die rots wat Jesus se woorde navolg (Matt. 7:24-27)
  • Jakobus spel die gevolge uit van mense wat hoor en nie doen nie met die voorbeeld van die man wat in ‘n spieël na homself kyk, maar dan vergeet hoe hy gelyk het (Jak. 1:19-27). Trouens, Jakobus gaan aan om hierdie ongelooflike belangrike seën uit te spreek – en let op dat hy steeds van God se wet praat wat vrymaak: “Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daarby bly, sal geseënd wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener wat sy werk doen.” (Jak. 1:25)

Sulke mense staar verwerping en verwydering in die oë, sê Psalm 119: “soos metaalskuim verwyder U al die goddelose van die aarde.” (Ps. 119:119). Jy kan nie na God se woorde luister en dit nie doen nie. Dit is die dood in die pot vir jou lewe. En, sê die Psalmis, jy moet jou afskei van mense wat kwaaddoen, sodat jy die openbaring van God kan nakom.

Die Psalm ontlok in my dieselfde ontsag vir God se woord as wat ek in die Psalmis raaksien: “Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel;” (Ps. 119:120). Dit ontlok ook in my dieselfde gebed: “Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig.” (Ps. 119:116-117). Ondersteuning en onderskraging. My gebed vir dié dag terwyl ek die wil van die Here soek en doen.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar