Skip to main content

Psalm 102:24-29

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis keer in die derde deel van Psalm 102 terug tot sy eie lot en betreur dit dat sy krag gebreek is toe hy nog jonk was, dat sy lewe verkort is. Hy verwys waarskynlik na die wegvoering in ballingskap. Hy vra egter dat die Here hom nog ‘n kans sal gee op aarde, maar vind tog berusting in God se ewigheid. Die hemel en die aarde sal vergaan: “maar U is vir altyd.” En sy verwagting is dat sy nageslag weer in die land bevestig sal word, al kan hy dit nie meemaak nie.

Bid die Psalm

“In my jeug het Hy my krag gebreek, Hy het my dae verkort. Maar ek het gesmeek: “My God, moenie my lewe neem terwyl ek nog so jonk is nie! U is daar, geslag na geslag. In die begin het U die aarde gevestig; die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U is vir altyd; soos klere sal hulle verslyt. U sal hulle uittrek soos kledingstukke, en hulle sal verdwyn. Maar U is altyd dieselfde; u jare ken geen einde nie. Die kinders van u dienaars sal in die land woon. Hulle nageslag sal voor U gevestig word.”” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 102 wys vir ons hoe verweef die lotgevalle van die individu is met dié van die geloofsgemeenskap waaraan hy of sy behoort. Wat met die geloofsgemeenskap gebeur, het ’n effek op die individuele gelowige en omgekeerd. Wat veral merkwaardig is, is dat die belofte van verlossing aangegryp word, hoewel die waarmaking daarvan as ’n realiteit uitgespel word wat eers vir die nageslag in werking sal tree. Dit is dus ’n soort geloof wat ’n realiteit vasgryp wat nog in die toekoms lê, en daaroor praat asof dit nou reeds daar is. Die Psalmis tree in vir sy mense hoewel hy self waarskynlik nie aan die uitkoms deel gaan hê nie. In die NT vind ons op ’n hele paar plekke hierdie tipe geloof wat aan die toekoms vashou, ten spyte van die nie-vervulling daarvan. Petrus sê: “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goeddoen.” (1 Pet. 4:19). ’n Mens kan die Psalm se spiritualiteit terugvind in Petrus se verwoording van die tipe geloofslewe wat van ons in beproewinge gevra word. Vir dieper delwers: die skrywer van Hebreërs het hierdie Psalm se tekening van God as ewig en onveranderlik (vers 26–28) eksplisiet op Jesus van toepassing gemaak (Hebr. 1:10-12).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar