Skip to main content

Psalm 107:10-16

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die tweede situasie waarin God vir sy goedheid en getrouheid gedank word, is die uitlei uit gevangenis waarmee waarskynlik steeds aan die beëindiging van die ballingskap gedink word.

Bid die Psalm

“Sommige mense was in duisternis, in diep donkerte, ellendige gevangenes in ysterboeie. Hulle het in opstand gekom teen die voorskrifte van God. Die leiding van die Allerhoogste het hulle geminag. Daarom het Hy hulle onderwerp deur hulle harde arbeid te laat doen; hulle het gestruikel, en daar was niemand om te help nie. “Here, help ons!” het hulle geroep toe hulle in nood was, en Hy het hulle uit al hulle ellende bevry, hulle uit duisternis en somberheid gered, en hulle boeie stukkend gebreek. Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan mense. Want Hy breek koperdeure af, en kap ystertralies stukkend.” NLV

Boodskap en betekenis

Die beskrywing van die donker, die diep duisternis, die feit dat hulle gevangenes in ellende en in boeie was, dui in die eerste plek waarskynlik op die ervaring van die ballingskap. Die rede daarvoor word ook aangegee: hulle verset teen die bevele van God. “Hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.” In hulle nood het hulle egter om hulp geroep en God het hulle bevry uit hulle ellende. Die metaforiese taal beteken dat dit ‘n Psalm is wat ons ook vandag in enige ander situasie van gevangenisskap kan gebruik: om die Here te smeek om ons uit ons ellende te bevry en van somberheid te red. Want, dit is wie Hy is. Hy doen steeds wonderdade aan sy mense, breek metafories die koperdeure af, en kap die ystertralies stukkend.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar