Skip to main content

Psalm 119:81-88

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die elfde deel van die Psalm fokus op die dilemma van gelowiges wat in ‘n situasie van vervolging wag op ‘n woord van die Here of die vervulling daarvan. Hy beskryf die inhoud van die verlange op verskillende wyses: ‘n woord van redding (Ps. 119:81), ‘n woord van troos (Ps. 119:82), ‘n woord van straf vir sy agtervolgers (Ps. 119:84), ‘n woord van hulp (Ps. 119:86 –“Help my!”), en ‘n woord van lewe (Ps. 119:88). ‘n Mens kan sy verlange met een woord opsom: “Wanneer?!” Sy hele wese smag na die verlossende en vertroostende woord van die Here. “Hoe lank moet u dienaar wag?” Hy druk sy stryd uit met die ongelooflike sprekende metafoor van ‘n wynsak in die rook. Dit het verskrompel van die lang blootstelling aan rook. Dit kan selfs wees dat hy hier eintlik van ‘n skoorsteen van dierevel praat wat amper onbruikbaar begin raak van al die blootstelling aan die rook en hitte van die vuur. Tóg het hy die voorskrifte van die Here nie vergeet nie. Tóg het hy die Here se opdragte nie verontagsaam nie. Daarom het hy die vrymoedigheid om met verwagting die Here te smeek om uitkoms, want dit is uiteindelik al wat hy met sy lewe wil doen: om die waarskuwings uit God se mond na te kom.

Bid die Psalm

“Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord. Ek ooreis my oë om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?” Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie. Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers? Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe. Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele. Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die Psalmis se verwagting en verlange na verlossing nie soseer gemik is op die een of ander voordeel wat hyself daaruit sal put nie, maar om in staat gestel te word om al meer te kan beantwoord aan sy lewensdoel, om absoluut nougeset te doen wat die Here hom wys. Dit is na alles wat Psalm 119 in hoofsaak sê die doel van die lewe is: “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.” En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus wat hierdie ongelooflike ding gesê het van sy eie lewensbegeerte: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” (Joh. 5:19) Hierdie gedeelte van die Psalm laat my diep dink oor my eie gehegtheid aan die woord van die Here. Nie net om my gedrag daardeur te laat bepaal in die algemeen nie (bv. die dubbele liefdesgebod, en die vrug van die Gees), maar om baie meer te fokus op die daaglikse woorde van die Here in my stiltetyd, en dit met alles in my na te kom.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar