Skip to main content

Psalm 73:15-28

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Let op hoe belangrik beide die persoonlike – “ek het nagedink om dit te verstaan” – en die korporatiewe nadenke – “totdat ek ingegaan het in die heiligdom van God”, d.w.s waar hy saam met die geloofsgemeenskap aanbid en die openbaring van God ontvang – is. Dit is in jou eerlikheid oor jou persoonlike ervarings, sowel as in jou aanbidding saam met die gemeenskap van die gelowiges wat die insig wat God gee, begrip en berusting bring.  Want dit is in die heiligdom van God – in die grondteks staan daar eintlik ‘n meervoud “heiligdomme van God” wat waarskynlik op die hele plek van die tempel dui – waar die gelowige blootgestel is aan die openbaring van God, wat hy begrip en berusting kry.

Bid die Psalm

 “As ek sou sê: “Ek sal só praat,” sou ek u kinders verloën het. Ek het nagedink om dit te verstaan; tog was dit vir my ’n moeilike taak, totdat ek ingegaan het in die heiligdom van God, en die uiteinde gesien het van die goddeloses. U plaas hulle op gladde plekke en laat hulle verval tot ’n puinhoop. In ’n oogwink is hulle vernietig, verslind deur verskrikking. Soos ’n droom wat ophou wanneer ’n mens wakker word, so verdwyn hulle beeld wanneer U ontwaak, o Here. Ek was verbitterd in my hart en verskeurd in my binneste. Ek was dwaas en onnosel; ek was dom soos ’n dier voor U. Tog is ek nog altyd by U; U hou my regterhand vas. U lei my met u raad, daarna sal U my opneem en in heerlikheid ontvang. Wie het ek in die hemel behalwe U? Ook op aarde soek ek net vir U. My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd. Dié wat ver van U is, sal omkom; dié wat ontrou is aan U, vernietig U. Maar wat my betref, dit is vir my goed om naby God te wees! Ek het geskuil by die oppermagtige Here, en sal bly vertel van al u wonders.” NLV

Betekenis en boodskap

God is waarlik goed vir sy mense.  Daar is geen twyfel daaroor nie. Hy is goed vir dié wat rein van hart is, wie se motiewe suiwer is, wie sonder bybedoelings lewe … maar dít kan jy net beleef en bely as jy, saam met God se mense, jou hart rein hou deur na Hom te bly kyk en in sy teenwoordigheid saam met ander gelowiges te bly leef. As jy val vir die versoeking om na die voorspoed (vrede) van die verwaande goddeloses te kyk, en jaloers raak op hulle oënskynlike sorgelose oorvloedige welvaart, sal jy God se goedheid juis miskyk, sy goedheid en regverdigheid begin bevraagteken, en vol bitterheid raak oor die lewe se ongelykhede en die teistering van teëspoed waaraan gewone mense uitgelewer is.  Op die langtermyn kry goddeloses hulle verdiende loon.  Sonder God struikel goddeloses op die einste Godlose pad wat hulle vanweë hulle ongevoelige harte verkies en word hulle boonop verdoem tot ‘n ewige duisternis.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar