Skip to main content

Psalm 132

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm roep die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering. Die pelgrims dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry. Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is. Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen. 35:19). Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel. Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam. 1:1). Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (Miga 5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek (Matt. 2:6). Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim. Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam. 6:21; 1 Sam. 7:1). Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam. 6:1 vv.; 1 Kron. 13:6 vv.). Die pelgrims tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom. Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie. Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias. Ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Here, onthou tog vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het. Hy het ’n eed voor die Here afgelê, ’n gelofte gemaak aan die Magtige van Jakob: “Ek sal nie huis toe gaan en na my bed toe gaan nie. Ek sal my oë nie laat slaap of laat sluimer nie tot ek ’n plek gekry het vir die Here, ’n heiligdom vir die Magtige van Jakob.” Ons het gehoor die ark is in Efrata, en dit gekry in die velde van Jaär. Kom ons gaan sy woning binne; laat ons laag voor Hom buig. Kom na u rusplek toe, Here, U en die ark, die teken van u mag. Laat u priesters geklee word met regverdigheid; mag u troue dienaars sing van vreugde. Ter wille van u dienaar Dawid, moet tog nie u gesalfde verwerp nie. Die Here het vir Dawid gesweer, en dit staan vas. Hy sal daarvan nie afwyk nie: “Een van jou afstammelinge sal Ek op jou troon laat sit. As jou seuns luister na my verbond en die eise navolg wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd regeer.” Want die Here het Sion gekies, dit as sy woning begeer: “Dit is my rusplek vir altyd. Hier sal Ek woon, want die plek het Ek begeer. Ek sal die stad oorvloedig seën met voedsel en haar armes van kos voorsien. Haar priesters klee Ek met redding; haar getroues sal sing van vreugde. Hier vestig Ek die mag van Dawid, en ’n nageslag vir my gesalfde. Ek klee sy vyande met skaamte, maar sý kroon sal bly skitter.”” NLV

Boodskap en betekenis

Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word. Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings en die seëninge wat daaraan verbind is. Dié seëninge sluit vier goed in:

  • God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – d.w.s .sy teenwoordigheid;
  • God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
  • God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
  • God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.

Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar