Skip to main content

Psalm 124

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid is bedoel vir die einde van ‘n tydperk van dreigende gevaar. Die gevaar is getrotseer en die belydenis dat die Here vir hulle is, het geblyk nie net teoreties waar te wees nie, maar in die praktyk van die lewe. Hulle – let op die meervoud – voel soos ‘n klomp voëls wat in ‘n net vasgevang was, maar die net is gebreek en hulle kon ontvlug. Nou begelei die liturg die pelgrims by die tempel om die vreugde van hulle verlossing te bely: “laat Israel dit nou maar sê”. Almal neem die refrein waarmee die liturg begin op, en sê saam: “As die Here nie aan ons kant was nie… sou hulle ons lewendig ingesluk het in die hitte van hulle toorn teen ons.”

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here nie aan ons kant was nie, laat Israel dit nou maar sê, as die Here nie aan ons kant was toe mense ons aangeval het nie, sou hulle ons lewendig ingesluk het in die hitte van hulle toorn teen ons. Die waters sou ons oorspoel het; strome sou ons oorweldig het. Die woeste waters sou ons weggesleur het. Lof aan die Here wat ons nie as prooi aan hulle oorgegee het nie. Ons het ontsnap soos voëls uit ’n voëlvanger se wip. Die wip is gebreek, en ons het ontvlug! Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” NLV

Boodskap en betekenis

Die verlossing van die Here het in ‘n situasie van opstand en woede gebeur waarin dit gevoel het asof hulle lewendig ingesluk word in ‘n vernietigende konflik, asof ‘n stroom tierende waters besig was om hulle lewens te oorweldig. Maar, nou kan hulle hier in die tempel die Here kom prys dat Hy hulle nie oorgegee het aan die verskeurende tande van woedende mense nie, en hulle laat ontvlug het van die valstrik wat vir hulle gespan is. Daarom kan hulle (weer – vgl. Ps. 121) met nog meer oorgawe bely: “Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” Inderdaad! Onthou, elke keer as ‘n predikant dié vers weer aanhaal aan die begin van ‘n erediens, dít is die agtergrond van dié belangrike bevestigende belydenis. God se hulp kom IN die konflik van die lewe tot sy reg. En ons almal kan daarvan getuig, waar ons getrou bly aan die Here, ons oë gerig is op sy hand (Ps. 123:2), ons in afhanklikheid van Hom lewe: “As die Here nie vir ons was nie…”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar