Skip to main content

Psalm 126

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm herinner die pelgrims aan die lotsverandering van Sion met die terugkeer uit ballingskap. Dit was tegelykertyd iets so onwerklik soos in ‘n droom en iets wat die verbeelding aangegryp het. Dit het hulle monde met gelag en hulle lewens met gejuig gevul. Dit het hulle oortuig dat die Here dit goed bedoel het met hulle. En die nasies is met ontsag vir God gevul: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” Die reaksie van die nasies, het hulle herinner dat die terugkeer ‘n oordeel oor die nasies ingesluit het, soos die profete belowe het (Sef. 2:7), maar ook verlossing, soos Sefanja 3:9 dit belowe: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien”. Maar hulle het ook geweet dat die terugkeer na die land en na God (Jer. 30:3), nie net politiese en godsdienstige dimensies sou insluit nie, maar ook ekonomiese en ekologiese dimensies (Am. 9:14). Dit is immers so uitvoerig in Jeremia se Boek van Vertroosting uitgespel, onder andere met ‘n grondkooptransaksie (Jer. 30-34). En dié toekoms het nog nie voluit aangebreek nie. Daarom is die Psalm nie net ‘n loflied wat die Here prys vir die feit dat Hy iets groots aan hulle gedoen het nie, maar ook ‘n gebed: “Verander weer ons lot, Here.” Daar was net te veel dinge wat nie reg was nie, veral in terme van die situasie in die land wat weer heropgebou moes word, en hulle boerderye wat weer ekonomies aan die gang moes kom. Die terugkeer uit ballingskap het God se goeie bedoelings met hulle bevestig. Daarom kon hulle met vertroue die Here nader om nou weer hulle lot te verander. Die Psalmis gebruik die beeld van die stroombeddings in die Negev (woestyn in die Suide) wat in ‘n oogwink in ‘n vloedwater kan verander met goeie reëns. Dít is wat hulle van die Here vra dat Hy hulle droë lewens weer vrugbaar sal maak. Sy gebed is egter ook ‘n verbintenis om die saad te saai, al is dit al huilende en met trane in die oë. Die situasie wat moontlik agter hierdie metafoor sit, is die feit dat ‘n deel van die koringsaad uiteindelik teruggehou moes word om dit in die volgende seisoen te saai sodat daar weer brood is vir die familie. Alles kan nie gemaal word vir brood nie. ‘n Deel moes teruggehou word om ‘n toekoms te verseker, al is dit met trane omdat dit moontlik nou swaar is vir die familie om broodsgebrek te lei, totdat die saad vrug gedra en ‘n opbrengs gebring het. Maar, hulle is steeds afhanklik van die Here vir die reën en die groei. Sonder die saai van die saad sal niemand die vrug sien nie. Maar, sonder die Here se seën sal die saai van die saad geen vrug oplewer nie.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit vir ons soos ’n droom. Ons het toe gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: “Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.” Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak loop en dra, sal beslis sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis vertrou daarom die Here dat Hy sal sorg dat hulle met gejuig kan maai en die oes van gerwe sal geniet, al beteken dit nou opoffering en hartseer. Jesus verwys in die NT op dieselfde wyse na sy dood en opstanding: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.” (Joh. 12:24). Daarmee gee Hy ons ‘n soortgelyke model vir die lewe, soos die Psalm sê: “Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai.” Dit is steeds vandag die model vir ons geestelike lewe. Dit is steeds gebaseer op die vertroue wat ons in die Here kan hê. Soos Hy Homself al in ons lewe bewys het dat Hy ons lot kan verander, só kan ons Hom vertrou om dit weer te doen.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…