Skip to main content

Psalm 108:6-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

God se trou is inderdaad alom bekend, soos die eerste deel van die Psalm dit getuig. Daar is egter telkens nuwe uitdagings wat wag, hier uitgedruk met die hernude gevaar van Edom. Let op hoe die Psalmis in die eerste plek met God se verhewenheid en heerlikheid begin en sy gebed om verlossing op God se heiligheid skoei. In die tweede plek beroep hy hom op God se beloftes aan Abraham (Gen. 15) en Dawid (2 Sam. 7) oor die uitbreiding van hulle grondgebied: na Sigem en die Sukkotlaagte – weerskante van die Jordaan – en die feit dat nie net die grondgebied van Israel (Gilead, Manasse en Efraim na die noorde, Juda rondom Jerusalem) aan die Here behoort nie, maar selfs Moab en Edom aan die oostekant van die Jordaan en Filistea na die westekant aan die Middellandse See.

Bid die Psalm

“Wees verhewe tot bo die hemele, o God, en laat u heerlikheid erken word oor die hele aarde. Red ons met u krag en help ons sodat U u geliefde volk kan red. God het dit by sy heiligheid belowe: As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel en die vallei van Sukkot uitmeet. Gilead is Myne, en Manasse behoort aan My. Efraim sal my krygsmanne oplewer, en Juda my konings. Moab sal my nederige dienaar word en Edom sal my slaaf wees. Oor Filistea juig Ek as oorwinnaar. Wie sal my lei na die versterkte stad? Wie sal my na Edom toe bring? Het U ons verwerp, o God? Gaan U, o God, nie saam met ons leërs opruk nie? Help ons tog teen ons vyande, want menslike hulp is waardeloos. Met God se hulp sal ons seëvier, want Hy sal ons vyande vertrap.” NLV

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die Bybel het altyd nuwe toepassings in nuwe situasies. Dit is waarom dit só belangrik is om jouself in die Woord te verdiep, om die Bybel ‘n huis te maak waarin jy woon. Want, dan kan jy ook soos hierdie na-ballingskap gemeenskap die ouer Psalms gebruik om ‘n nuwe Psalm te skryf vir die situasie waarin jy jou nou bevind. En soos hulle jou vertroue op God se karakter en beloftes plaas. Dink vandag aan ‘n situasie waarin jy of iemand naby aan jou steeds vasgeval is… en bid dat die Here jou daaruit verlos: “Help ons tog teen ons vyande, want menslike hulp is waardeloos. Met God se hulp sal ons seëvier, want Hy sal ons vyande vertrap.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar