Skip to main content

Psalm 105:24-36

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis herinner die geloofsgemeenskap aan God se seën van vrugbaarheid in Egipte wat uiteindelik egter uitgeloop het daarop dat hulle deur die Egiptenare gehaat en onderdruk is. Let op dat die Here ook daarin betrokke gesien word: “Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander.” (vers 25). Die Here se uiteindelike plan daarmee was egter verlossing, en Moses en Aäron word gestuur om die Israeliete te verlos deur wondertekens, die plae in Egipte. Agt van die tien plae word genoem: duisternis (9de – miskien hier eerste geplaas as ’n soort simboliese opsomming van die effek van al die plae), water in bloed (1ste), paddas (2de), insekte (4de – “steekvlieë”), muggies (3de), hael (7de), sprinkane (8ste), en die dood van die eersgeborenes (10de).

Bid die Psalm

“Die Here het sy volk laat vermeerder en hulle was magtiger as die vyande. Hy het hulle gesindheid verander sodat hulle sy volk gehaat het, en listig saamgesweer het teen die dienaars van die Here. Hy het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, wat Hy verkies het. Hulle het wondertekens tussen hulle verrig, en wonderwerke in die land Egipte. Hy het duisternis gestuur, en dit het donker geword. Nogtans het die Egiptenaars hulle teen sy bevele verset. Hy het hulle water in bloed verander, en so al die visse laat vrek. Toe het paddas die land oordek, tot in die koning se slaapkamer. Op sy bevel het swerms insekte gekom, en muggies oor die hele land. Hy het hael gestuur in plaas van reën, en weerlig oor hulle hele land. Wingerde en vyebome het Hy getref, en al hulle bome stukkend geslaan. Op sy bevel het sprinkane gekom, hordes sprinkane sonder tal. Al die groen plante in die land het hulle verorber, al die produkte van die landerye het hulle vernietig. Die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf, die eerstelinge van elke huisgesin.” NLV

Boodskap en betekenis

Wat belangrik is van dié plae is dat hulle as woorde aan die Egiptenare beskryf word. In vers 27 staan daar letterlik oor die wonders of wondertekens dat dit: “woorde van/oor sy tekens” was. Die Here wou hê dat die Egiptenare deur die plae sy wil sal agterkom, dat Hy die Israeliete gaan verlos, en dat hulle daarmee moet saamwerk, anders sou dit hulle suur bekom. Maar, hulle het nie op sy woorde ag geslaan nie. Vir ons het dit die boodskap dat God ons nooit in die steek laat nie. Dat Hy nooit sy plan met ons laat vaar nie. Daarop kan ons reken.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar