‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25
18 Die geboorte van Jesus Christus was só: Toe Maria, sy moeder, aan Josef verloof was, voor hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy swanger is deur die Heilige Gees.
19 Josef, haar man, was wetsgehoorsaam, maar wou haar nie in die openbaar verneder nie, en het besluit om in die geheim die verlowing met haar te verbreek.
20 Terwyl hy dit oorweeg het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.
21 Sy sal geboorte gee aan ’n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”
22 Dit alles het gebeur sodat vervul sou word wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is:
23 “Kyk, die maagd sal swanger word
en geboorte gee aan ’n Seun,
en hulle sal Hom Immanuel noem,” (Jes. 7:14)
wat vertaal word: “God is met ons.”
24 Toe Josef uit sy slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en hy het haar by hom as vrou geneem.
25 En hy het nie met haar intiem verkeer totdat sy geboorte gegee het aan ’n seun nie. En hy het Hom Jesus genoem.
Teks en konteks
1:18-23 Jesus se geboorte word beskrywe in terme van die verhouding tussen Josef en Maria, soos die geslagsregister dit sal aandui, sowel as in terme van die werking tussen God en hulle.
Vyf rolspelers is betrokke:
- die Heilige Gees uit wie Maria swanger geraak het (vers 18, 20);
- Maria, die moeder van Jesus en verloofde van Josef, wat deur God gekies word om aan Jesus geboorte te gee en beskerm word teen egskeiding en verwerping;
- Josef, Maria se man, wat beide regverdig (hy wil die wet gehoorsaam) as barmhartig was (hy wil haar nie in die openbaar verneder nie, maar in die geheim skei), word gekies en oortuig om Jesus se aardse pa en Maria se beskermer en lewensmaat te wees;
- ‘n Engel van die Here wat in ’n droom aan Josef verskyn en hom intrek in God se plan met Jesus en duidelik die band met die vervulling van die OT beloftes (Jes. 7:14) lê, sowel as aan Josef opdragte gee aan die hand van die openbaring oor nie net die afkoms van Jesus nie (“deur die Heilige Gees”), maar ook sy toekoms (“Hy sal sy volk van hulle sondes verlos”);
- Jesus, die seun waaroor dit ten diepste in dié gedeelte gaan en as Verlosser (die naam Jesus beteken Verlosser) en Immanuel (God-met-ons – vgl. Jes. 8:8,10) gebore word.
1:24-25 Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25). Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jesaja 7:14 dat die “maagd sal swanger word”.
Die Goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ’n engel of een of ander geestelike of goddelike wese nie). Dié getuienis het tot die belydenis van die “maagdelike geboorte” gelei, hoewel dit duidelik ook ’n “goddelike geboorte” is, iets wat vir my nog meer gewig dra en die wonder van die gebeure verhoog.
Dit is ook wonderlik hoe sentraal die idee van ’n familie in hierdie gedeelte staan, die konteks wat God kies om die grootste transformasie van die menslike geskiedenis in werking te stel. Dit is dan ook Josef wat Jesus sy naam gee binne die familie-konteks. Hy gee daarmee aan Jesus ’n menslike tuiste.
Betekenis en boodskap
Ontgin die betekenis en boodskap van hierdie gedeelte deur te fokus op Josef (of enige ander van die karakters). Dink aan sy regverdigheid wat deur gehoorsaamheid aan die wet uitgeleef word. Dink aan sy barmhartigheid deur te kies om Maria nie in die openbaar te verneder nie. Dink oor sy gereedheid om die Here te gehoorsaam toe God hom in ‘n droom oortuig, veral toe hy agterkom dat God se beloftes uit die verlede oor die Messias hier in vervulling gaan. Dink oor sy selfbeheersing om nie met Maria gemeenskap te hê nie vóór sy geboorte aan Jesus gegee het.
Elke enkele een van dié eienskappe kan met geestelike volwassenheid verbind word, ‘n bereidheid om God te vertrou en te volg, al beteken dit jy moet jou “regte” in die proses opskort, sodat God se wil deur jou lewe kan seëvier.
Wat beteken dit prakties vir jou?
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

sparklybc467b2e69
Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.