Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12
Ons lees vervolgens Matteus se vyf verhale van Jesus se kinderjare of meer korrek, sy peuter jare (0-3).
Matteus fokus op die reaksies van ’n wye reeks mense op die bekendstelling van God se herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes. Hy vertel vir ons van die besoek van die sterrekundiges, die reaksies in Jerusalem, die ontmoeting in Betlehem, die vlug na Egipte, die kindermoord deur Herodes, die terugkoms uit Egipte, en die uiteindelike verblyf in Nasaret.
Die gebeure van hoofstuk 2 vind duidelik ‘n tyd ná die geboorte van Jesus plaas. Die sterrekundiges gaan “in die huis” in om voor Jesus neer te kniel en Hom te aanbid. Hulle is dus nie meer in die stal nie. Josef-hulle het dus ‘n geruime tyd in Betlehem gebly vóór hulle eers na Egipte toe uitgewyk het, en daarna in Nasaret gaan bly het.
MATTEUS 2:1-12
1 Toe Jesus gebore is in Betlehem in Judea in die dae van koning Herodes, het daar sterrekundiges van die ooste in Jerusalem aangekom
2 en gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”
3 Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom.
4 En hy het al die priesterhoofde en skrifkenners van die volk byeengebring en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.
5 En hulle het vir hom gesê: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur die profeet geskryf:
6 ‘En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die geringste
onder die leiers van Juda nie,
want uit jou sal ’n leier voortkom,
wat ’n herder vir my volk Israel sal wees.’ (Miga 5:1; 2 Sam 5:2)”
7 Herodes het toe in die geheim die sterrekundiges geroep en noukeurig by hulle uitgevind wanneer die ster verskyn het.
8 En hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”
9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek, en kyk, die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uitgegaan totdat dit reg bo waar die Kind was, gaan staan het.
10 Toe hulle die ster sien, was hulle geweldig bly.
11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kind saam met Maria, sy moeder, gesien, en het neergeval en Hom aanbid, en hulle het hulle houers met kosbaarhede oopgemaak en geskenke vir Hom aangebied, goud en wierook en mirre.
12 Omdat hulle in ’n droom gewaarsku is om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land teruggekeer.
Teks en konteks
Die reaksies op Jesus in hierdie perikoop is merkwaardig. Dit sluit in die eerste plek verteenwoordigers van die nasies in (sterrekundiges) en slegs in die tweede plek verteenwoordigers van die Joodse volk (koning Herodes die Grote, die hele Jerusalem, die priesterhoofde en skrifkenners). Dit is ironies dat die nasies hier heel eerste eer aan Jesus bring en Hom met geskenke oorlaai. Die volk, daarenteen, is ontsteld oor die nuus en Herodes is só briesend dat hy hierna ’n tragiese kindermoord pleeg in ’n poging om Jesus uit die weg te ruim.
2:1-2 Ons weet min van hierdie sterrekundiges af. In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior en Balthasar, maar daar is geen ander historiese getuienis wat dit bevestig nie. Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie. Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het. Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”
Daar is ’n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n monoteïstiese godsdiens in Persië. Die gebied staan vandag bekend as Iran. Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad. Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n volgeling van Zoroaster. Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.
Indien hierdie “wyse manne” (na aanleiding van die Latynse vertaling van die Grieks met die woord magi) dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor. Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer. Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel.
Hoe dit ook al sy, hierdie sterrekundiges het met passie hulle doelwit nagestreef, om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys. En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes.
Terloops, ons weet nie baie van die ster af nie. Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete (Jupiter en Saturnus het in 7 v.C. in die Pisces sterrebeeld oorvleuel) of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het. En hoe hulle die ster se pad bereken het en dit gevolg het – dit weet ons ook nie. Die feit is dat die sterrekundiges daardeur gelei is tot by ’n ontmoeting met Jesus. Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, benewens die klompie mense wat vergader het rondom Josef en Maria.
2:3-4 Let op dat Herodes nie die vraag van die sterrekundiges bestry nie. Trouens, dis ironies dat Herodes self verwys na die geboorte van “die Christus” (Messias). Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie Evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys. Hy laat die skrifkundiges roep om die sterrekundiges te help.
2:5-6 Die priesterhoofde en skrifkenners verskaf vanuit die OT waardevolle inligting oor Jesus se geboorte: dat die Christus in Betlehem gebore sou word soos Miga 5:1 voorspel het; dat Hy die herder van Israel sou wees, die rol wat God vir konings bepaal het (2 Sam 5:2).
Hulle is egter interessant genoeg tevrede om net die regte antwoord uit die Skrif te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie. Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie. Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. En onthou, Betlehem was maar 8 km suid van Jerusalem.
2:7-8 Herodes konkel in die geheim om die presiese plek van die geboorte uit te vind. Kwansuis om die Koning te aanbid. Soos die kindermoord uitwys was sy bedoeling egter om alle moontlike teenstand uit te wis.
2:9-11 Die sterrekundiges ervaar ‘n onbeskryflike groot vreugde (hulle was “geweldig bly”), kniel voor Jesus neer om Hom te aanbid en eer, en gee vir Hom geskenke uit hulle skatte. En Jesus is nog maar net ’n paar dae oud!
Let op hoe God regdeur betrokke is in hierdie verhaal. In die algemene openbaring van die ster, sowel die besondere openbaring waar Jesus gebore sou word in die Skrif. Hy lei die wyse manne uiteindelik in ‘n droom ter wille van die beskerming van Jesus, en sal dit nog ‘n paar keer doen in die drome wat Josef ontvang.
Betekenis en boodskap
Dit is insiggewend dat die sterrekundiges uiteindelik by die huis in Betlehem die Here Jesus self ontmoet. Dit gebeur duidelik, aan die een kant, omdat God self hulle begelei het daarheen: deur die ster; deur hulle vaardighede as sterrekundiges; deur hulle gesamentlike reis; deur die Skrif; deur skrifkenners. Maar, dit is ook duidelik aan die ander kant, dat sonder hulle besluit om nougeset te luister daarna en sonder huiwering op te tree volgens die lig wat hulle het, hulle nooit daar sou uitgekom het nie. Jesus word vir hulle ‘n werklikheid deur te hoor en te doen.
Dit is anders met die skrifkenners en ander ingeligtes in Jerusalem. Hulle mis die betekenis van die gebeure, al het hulle ongeveer dieselfde inligting as die sterrekundiges gehad. Hoekom? Want hulle hoor sonder om iets daaraan te doen. Trouens, Herodes besluit om Jesus dood te maak, omdat hy in die jong kind ‘n bedreiging vir sy koningskap sien. Apatie en antipatie kos jou die belewenis van God se werklikheid.
Dink na oor hoe God jou al in die verlede begelei het om sy werklikheid te beleef. Deur alledaagse gebeure. Deur die Skrif. Deur ander se invloed. Jy sal saamstem dat dit was wanneer jy gekies het om te reageer, om sy leiding ter harte te neem, om daarvolgens op te tree, dat Hy ‘n al hoe groter werklikheid geword het.
Laat die verhaal jou motiveer om met meer aandag te luister na wat die Here tans vir jou sê en begin tree vir tree, volgens die lig wat jy het, stap op die pad wat die Here aandui. Hy wil jou intrek in die werklikheid van ‘n lewe saam met Jesus.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.