Skip to main content

Van Bedroefheid na Begenadiging – die verhaal van Noag

Die verhaal van God se ingrype met ‘n nuwe begin vir Noag, sy familie en nageslag wys op uitnemende wyse die karakter van God.

God se droefheid oor die mensdom se bose gedagtes en gedrag gaan oor in genade as Hy iemand vind met wie Hy die pad met die mens vorentoe kan loop, al sou hulle Hom ook telke male teleur stel … totdat Hy in sy eie Seun die perfekte antwoord vir die dilemma van menswees vind.

Lees gerus die vier hoofstukke van Noag se lewe in Genesis 6-9

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van mense. Dit het ons gesien in die verhaal van Adam en Eva. Dit het ons gesien selfs in die verhaal van die geweld van Kain teenoor Abel. Dit sien ons nou weer in die verhaal van Noag. God wil by ons woon. Hy wil met ons wandel. Hy wil met ons in gemeenskap wees.

Al moet God regverdig wees om die sonde en afgodery te straf, al moet Hy die mensdom oordeel aan die openbaring van sy wil, sy verlossing van dié wat hulle vertroue op Hom plaas, skyn ook telkens deur. Hy is regverdig EN genadig.

Die verloop van die res van die storie van die Bybel sal telkens vir ons hieraan herinner. Die Bybel is die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Die verhaal van Noag is daarom in ‘n sekere sin God se eerste poging om met ‘n familie oor te begin, eerder as net met ‘n persoon soos Set, die derde seun van Adam en Eva. Dat dit nie volledig gaan slaag nie – soos ons gaan lees in die verhaal van die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam waaruit drie aartsvyande van Israel gebore sou word – beteken nie dat God nie alles insit om dinge reg te maak nie.

Dat uit Gam se nageslag Egipte gebore sou word, die nasie wat Israel – nageslag van Sem – ‘n slawevolk sou maak, dat die Kanaäniete op soortgelyke wyse ‘n konstante verleiding sou wees vir hulle broerskinders Israel, toe die volk uiteindelik die beloofde land betree het, en dat die Assiriërs, ook deel van Gam se nageslag, vir die eerste ballingskap verantwoordelik sou wees, was hier nog ver in die toekoms (Gen. 10:6-20).

Die probleem weet ons egter, is dat die Here wel die sondige mense op aarde kon uitwis met die vloed, maar dat die sonde self nie daarmee uitgewis is nie, want die sonde het saam met selfs die begenadigdes, Noag en sy mense, opgeklim op die ark. Die sonde was doodgewoon deel van hulle geestelike DNA. Iets meer sou moes gebeur … die Here Jesus sou die sonde van die mens aan die kruis moes kom uitwis en ons van binne af verander deur geloof in sy versoeningswerk.

Noag in die res van die Bybelse verhaal

Die redding van Noag in die vloedverhaal word in Jesaja 54:9 gebruik as ‘n bevestiging van God se goeie gesindheid teenoor Israel wat hulle nie langer sal straf nie, maar sy verbond met hulle sal nakom. Die verhaal van Noag is daarom ‘n voortdurende herinnering aan alle gelowiges van alle tye dat God sy verbond met ons nooit sal verbreek nie, selfs al is iets soos ‘n ballingskap nodig in sy plan met sy mense.

Só het dit ook ‘n neerslag gevind in die NT boodskap. Die skrywer van die Hebreërbrief beskryf Noag as ‘n held van die geloof: “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.” (Hebr. 11:7).

Maar juis in die wyse waarop sy redding ook onvermydelik die oordeel van God oor dié wat aan Hom ongehoorsaam was aan die orde gestel het, is dit só noodsaaklik om albei kante van die boodskap van Noag ter harte te neem. Noag vertel ons van God se verlossende oordeel, soos dit ook in die boodskap van Openbaring na vore tree, die boek wat op die einde nie maar net van die bewoonde aarde, soos in Noag se tyd, dui nie, maar op die einde van die tyd.

Geen wonder dat die opdrag aan die kerk gegee word om beide die verlossing en die oordeel te verkondig, gesimboliseer deur die kleiner boekrolletjie wat Johannes uit die hand van die sterk, enorme en ontsagwekkende engel ontvang. Lees meer daaroor in my vroeëre bydrae: Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig.

Die gebeure rondom Noag word daarom as ‘n voorbeeld gebruik in die tweede brief van Petrus as waarskuwing vir die gelowiges om te volhard in gehoorsaamheid: “God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.” (2 Pet. 2:4-5).

Noag is dus ‘n getroue getuie van die genade wat daar is vir gehoorsames. Trouens, die doop is ‘n teken en seël daarvan, soos Petrus dit duidelik maak: “Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Pet. 3:20-21).

Maar, dit is egter ook duidelik dat God se redding nie onafhanklik kan gebeur van ‘n vaste voorneme om volgens God se wil te lewe nie, soos ons reeds in Esegiël 14:14,10 agterkom dat die Here sy profeet waarsku dat sy eis om gehoorsaamheid absoluut is. As mense die Here nie wil dien nie, help dit uiteindelik nie eers om vir hulle te bid nie, want selfs: “Noag, Daniël (nie die Bybelse Daniël nie) en Job as hulle daar was, (sou) nie eens ’n enkele seun of dogter kon red nie; hulle sou net hulleself in die lewe kon hou omdat hulle volgens my wil geleef het.”

Só waarsku Jesus ook in die NT oor die onbekommerde lewe van mense met sy wederkoms. “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: Hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.” (Luk. 17:25-26; vgl. Matt. 24:37-38).

Die verhaal van Noag teken dus die onafwendbare katastrofe van ongehoorsaamheid. God haat die sonde. God sal ongehoorsaamheid straf. Daar is ‘n oordeel wat kom. Niemand wat in hulle sonde volhard, sal dit vryspring nie.

Die verhaal van Noag teken egter ook die geweldige gerusstelling, die troos, soos dit opgesluit is in die betekenis van sy naam: “Hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” (Gen. 5:28). God sal die aarde nie weer vernietig soos met die sondvloed voor die einde kom nie. Hy sal die regverdiges, dié wat aan Hom gehoorsaam is, red, soos Hy dit indertyd met Noag en sy nageslag gedoen het. Met hulle het Hy ‘n nuwe geslag op aarde begin. Met ons sal Hy die ewigheid van ‘n nuwe hemel en aarde binnegaan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.