Skip to main content

Van Bedroefheid na Begenadiging – die verhaal van Noag

Die verhaal van God se ingrype met ‘n nuwe begin vir Noag, sy familie en nageslag wys op uitnemende wyse die karakter van God.

God se droefheid oor die mensdom se bose gedagtes en gedrag gaan oor in genade as Hy iemand vind met wie Hy die pad met die mens vorentoe kan loop, al sou hulle Hom ook telke male teleur stel … totdat Hy in sy eie Seun die perfekte antwoord vir die dilemma van menswees vind.

Lees gerus die vier hoofstukke van Noag se lewe in Genesis 6-9

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van mense. Dit het ons gesien in die verhaal van Adam en Eva. Dit het ons gesien selfs in die verhaal van die geweld van Kain teenoor Abel. Dit sien ons nou weer in die verhaal van Noag. God wil by ons woon. Hy wil met ons wandel. Hy wil met ons in gemeenskap wees.

Al moet God regverdig wees om die sonde en afgodery te straf, al moet Hy die mensdom oordeel aan die openbaring van sy wil, sy verlossing van dié wat hulle vertroue op Hom plaas, skyn ook telkens deur. Hy is regverdig EN genadig.

Die verloop van die res van die storie van die Bybel sal telkens vir ons hieraan herinner. Die Bybel is die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Die verhaal van Noag is daarom in ‘n sekere sin God se eerste poging om met ‘n familie oor te begin, eerder as net met ‘n persoon soos Set, die derde seun van Adam en Eva. Dat dit nie volledig gaan slaag nie – soos ons gaan lees in die verhaal van die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam waaruit drie aartsvyande van Israel gebore sou word – beteken nie dat God nie alles insit om dinge reg te maak nie.

Dat uit Gam se nageslag Egipte gebore sou word, die nasie wat Israel – nageslag van Sem – ‘n slawevolk sou maak, dat die Kanaäniete op soortgelyke wyse ‘n konstante verleiding sou wees vir hulle broerskinders Israel, toe die volk uiteindelik die beloofde land betree het, en dat die Assiriërs, ook deel van Gam se nageslag, vir die eerste ballingskap verantwoordelik sou wees, was hier nog ver in die toekoms (Gen. 10:6-20).

Die probleem weet ons egter, is dat die Here wel die sondige mense op aarde kon uitwis met die vloed, maar dat die sonde self nie daarmee uitgewis is nie, want die sonde het saam met selfs die begenadigdes, Noag en sy mense, opgeklim op die ark. Die sonde was doodgewoon deel van hulle geestelike DNA. Iets meer sou moes gebeur … die Here Jesus sou die sonde van die mens aan die kruis moes kom uitwis en ons van binne af verander deur geloof in sy versoeningswerk.

Noag in die res van die Bybelse verhaal

Die redding van Noag in die vloedverhaal word in Jesaja 54:9 gebruik as ‘n bevestiging van God se goeie gesindheid teenoor Israel wat hulle nie langer sal straf nie, maar sy verbond met hulle sal nakom. Die verhaal van Noag is daarom ‘n voortdurende herinnering aan alle gelowiges van alle tye dat God sy verbond met ons nooit sal verbreek nie, selfs al is iets soos ‘n ballingskap nodig in sy plan met sy mense.

Só het dit ook ‘n neerslag gevind in die NT boodskap. Die skrywer van die Hebreërbrief beskryf Noag as ‘n held van die geloof: “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.” (Hebr. 11:7).

Maar juis in die wyse waarop sy redding ook onvermydelik die oordeel van God oor dié wat aan Hom ongehoorsaam was aan die orde gestel het, is dit só noodsaaklik om albei kante van die boodskap van Noag ter harte te neem. Noag vertel ons van God se verlossende oordeel, soos dit ook in die boodskap van Openbaring na vore tree, die boek wat op die einde nie maar net van die bewoonde aarde, soos in Noag se tyd, dui nie, maar op die einde van die tyd.

Geen wonder dat die opdrag aan die kerk gegee word om beide die verlossing en die oordeel te verkondig, gesimboliseer deur die kleiner boekrolletjie wat Johannes uit die hand van die sterk, enorme en ontsagwekkende engel ontvang. Lees meer daaroor in my vroeëre bydrae: Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig.

Die gebeure rondom Noag word daarom as ‘n voorbeeld gebruik in die tweede brief van Petrus as waarskuwing vir die gelowiges om te volhard in gehoorsaamheid: “God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.” (2 Pet. 2:4-5).

Noag is dus ‘n getroue getuie van die genade wat daar is vir gehoorsames. Trouens, die doop is ‘n teken en seël daarvan, soos Petrus dit duidelik maak: “Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Pet. 3:20-21).

Maar, dit is egter ook duidelik dat God se redding nie onafhanklik kan gebeur van ‘n vaste voorneme om volgens God se wil te lewe nie, soos ons reeds in Esegiël 14:14,10 agterkom dat die Here sy profeet waarsku dat sy eis om gehoorsaamheid absoluut is. As mense die Here nie wil dien nie, help dit uiteindelik nie eers om vir hulle te bid nie, want selfs: “Noag, Daniël (nie die Bybelse Daniël nie) en Job as hulle daar was, (sou) nie eens ’n enkele seun of dogter kon red nie; hulle sou net hulleself in die lewe kon hou omdat hulle volgens my wil geleef het.”

Só waarsku Jesus ook in die NT oor die onbekommerde lewe van mense met sy wederkoms. “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: Hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.” (Luk. 17:25-26; vgl. Matt. 24:37-38).

Die verhaal van Noag teken dus die onafwendbare katastrofe van ongehoorsaamheid. God haat die sonde. God sal ongehoorsaamheid straf. Daar is ‘n oordeel wat kom. Niemand wat in hulle sonde volhard, sal dit vryspring nie.

Die verhaal van Noag teken egter ook die geweldige gerusstelling, die troos, soos dit opgesluit is in die betekenis van sy naam: “Hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” (Gen. 5:28). God sal die aarde nie weer vernietig soos met die sondvloed voor die einde kom nie. Hy sal die regverdiges, dié wat aan Hom gehoorsaam is, red, soos Hy dit indertyd met Noag en sy nageslag gedoen het. Met hulle het Hy ‘n nuwe geslag op aarde begin. Met ons sal Hy die ewigheid van ‘n nuwe hemel en aarde binnegaan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Jesaja 1Hi Elsa, jy is welkom. Hier is die skakel: https://bybelskool.com/jesaja-1/
  • Elsa Perold on Jesaja 1Ons is 'n Bybelstudiegroep in Tulbagh en wil die boek Jesaja bestudeer. Ek het onderneem om meer oor oorsprong en rede vir die boek Jesaja asook die profeet Jesaja na te vors. Ek moet ook Hoofstuk 1 voorberei vir volgende Woensdag. Ek wil weet of ek die materiaal rondom Jesaja wat deur uself saamges…
  • Chris van Wyk on Psalm 82Hi, ek verstaan. Ek het die subscribe opsie afgesit, want dit is in elk geval in 'n widget aan die regterkant, maar die cookies is 'n belangrike een vir "consent". Dit kan ek nie afsit nie, en behoort nie baie te verskyn nie.
  • optimistica231f5e58a on Psalm 82Beste Chris. Jammer, maar ek moet die medium gebruik om jou in te lig omtrent die "Subscribe" boodskappe wat my deesdae verpes. Ek kan jou nie op ander "comments" kontak en moet vra hoekom na ek ingeteken het en weer "Subscribe" het soos hul vra, weee en weer die boodskap oor Cookies en Subscribe kr…
  • Chris van Wyk on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanDankie Doreen, waardeer.
  • Doreen Snyders on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanGoeiedag, net om baie baie dankie te sê vir al u wonderlike en insiggewende bydraes wat ons so gereeld ontvang. Ek besef hoe geweldig baie die navorsing en skrywe daarvan verg. Nogmaals dankie. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanDankie Chris, my voorreg.
  • Chris van Zyl on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanBaie dankie Chris vir die ekstra waarde wat jy toevoeg deur die interpretasies en kontektuele uitleg van die Bybel met ons te deel. Dit alles maak baie sin. Mag God jou seën met hierdie bydraes tot geestelike groei. Voorspoed.
  • Chris van Wyk on Esegiël 45-46👍
  • Louisa Meyer on Esegiël 45-46Ek staan al hoe meer verwonderd oor die volledigheid van Godse woord en die relevansie van elke gedeelte. Baie dankie.
  • Chris van Wyk on Wees versigtig vir die verkeerde idees oor KersfeesHi Richard, jy is reg, maar die belangrike is om nie saam te doen nie, en die dag as 'n Christusfees te vier, terwyl 'n mens in hierdie tyd fokus op uitreik na ander, en ook familiewees vier. Groete.
  • Richard on Wees versigtig vir die verkeerde idees oor KersfeesMôre oom Chris. Gaan dit goed? Dankie vir hierdie skrywe, wat seker vir altyd in debat sal wees, ongelukkig. Nietemin, ek wil tog vra vir ń nuwe artikel rakende die onverantwoordelikheid waarmee ons Kersfees vier. Wat ek bedoel is die volgende: Hoe kan ons derduisende rande spandeer aan bome, liggie…
  • Chris van Wyk on PREKE: 2008 TOT 2018Die Bybel, soos jy weet, het geen probleem met die matige gebruik van drank nie, en verbind dit baie keer met feestelikheid, bv as drankoffer (Num 28:7) en tydens die fees van die tiendes (Det 14:26). Dit was wel verbode vir sommiges onder sommige omstandighede: vir Leviete wat in die tent van samek…
  • Wilma Heydenrych on PREKE: 2008 TOT 2018Goeiemore Pastoor. Ek het iets wat my vreeslik pla en dis die verkoop van sterk drank deesdae by ons kerk kermisse/besaars... ek is lid van die NG Kerk...ek is nie daarmee gemaklik nie aangesien ek weet wat alkohol aan mense/families doen... kom uit so huwelik... Ek weet en verstaan die gebruik van…
  • Chris van Wyk on Hosea 14:2-10 – Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhêAnelle, dit is nooit te laat vir iemand om tot bekering te kom nie. Onlangs het ek die getuienis van 'n 104-jarige persoon gehoor wat tot bekering gekom het.