Skip to main content

Vertrou op die kragtige hand van God

Die bydraes hervat weer die 30ste September 2019.

Simon Petrus

Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer.  Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus  word in die Bybelteks as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken.

Petrus het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see!  In die proses het hy soms foute gemaak en soms bitterlik gehuil oor sy beperkinge.  Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk. 

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd.  Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad.

Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees.  In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

1 Petrus

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C. uit Rome (Babilon).  Hy rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora, die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Petrus praat egter duidelik van Christene uit die heidennasies.

In sy brief beklemtoon Petrus dat die gelowiges burgers is van God se koninkryk.  Hulle lewe op aarde dus as vreemdelinge en bywoners.  Dit beteken dat hulle waardes nie bepaal word deur hierdie lewe nie, maar deur God se koninkryk.  Hulle is mense wat uitverkies is om deur Hom heilig gemaak te word deur die Heilige Gees, om aan Hom gehoorsaam te wees en die Here Jesus met hulle hele lewe lief te hê. 

Dit is daarom ook die rede waarom hulle houding teenoor ander mense getransformeer kan en moet word.  Hulle word opgeroep om mekaar hartlik en ongeveinsd lief te hê en hulle “goed (te) gedra” onder die heidene sodat dié God kan verheerlik omdat hulle die gelowiges se “goeie dade” gesien het.  Die hoop is dat die “onkunde van dwase mense” stopgesit sal word deur goeddoen, nie deur kwaaddoen nie.  God het hulle immers vry gemaak om alle mense te respekteer, sowel as die keiser en die owerhede.

Nie dat dié inskiklike ingesteldheid altyd met grasie deur die wêreld ontvang sal word nie.  Daarom moet hulle nie verbaas wees wanneer daar teenstand en beproewings oor hulle pad kom nie.  Dit is nie iets vreemds nie, maar deel van die pad van lyding wat alle Christene tref.  “Dus moet ook hulle wat in oorstemming met die wil van God ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.”  Goeddoen bly die goue reël vir gelowiges in alle omstandighede.

Petrus rond sy brief in hoofstuk 5 af deur te fokus op twee aspekte van hulle gemeentelike lewe wat hulle standvastigheid in die geloofstryd in die wêreld sal gee.  Die eerste het te make met die leierskap in die gemeente en die absolute belang van vrywillige, geesdriftige versorging wat gewortel is in die voorbeeld wat hulle stel.  Die tweede het te make met die navolging van die leiers se toesig en voorbeeld, terwyl almal saam op die kragtige hand van God sal vertrou.  Hoekom?  “Want Hy gee vir julle om!

Petrus doen ‘n ernstige beroep op die ouderlinge as leiers van die gemeente.  “Versorg soos herders die kudde van God in julle midde”.  Hy spel dié versorging uit op twee maniere: 1) as toesig oor hulle, en 2) as voorbeeld vir hulle.  Aan die een kant moet hulle dus verantwoordelikheid neem vir die lede van hulle geloofsgemeenskap om hulle te help om standvastig te bly. En hulle moet dit doen op vrywillige en geesdriftige wyse, nie op ‘n baasspelerige manier óf deur wins daaruit te maak nie.  Aan die ander kant moet hulle ook as voorbeelde die standvastigheid in die Here voorleef.  Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Hy motiveer hulle op twee maniere vir hierdie belangrike taak.  Aan die een kant verwys hy na homself as ‘n voorbeeld vir hulle – as mede-ouderling, getuie, en deelgenoot.  Aan die ander kant verwys hy na die beloning wat die Here, die “Groot Herder”, vir elke getroue ouderling sal gee, die erekrans van heerlikheid wat nooit sal verwelk nie.

Dan moedig hy die gelowiges aan om hierdie leierskap na te volg, maar in die laaste instansie hulle in hulle vertroue op God te verlaat. Kom ons lees dit:

6Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. 7Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. 8Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. 9Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. (1 Pet 5:6-11)

Petrus roep hulle almal op om al hulle bekommernis op God te werp en die vertroue dat sy kragtige hand aan die werk sal kom in hulle lewens.  Hoekom?  “Want Hy gee vir julle om!” Wat ‘n voorreg.

Dit is des te meer noodsaaklik, omdat die uitdagings van hierdie lewe ‘n geestelike basis het: “Julle teenstander, die duiwel, loop rond ‘soos ‘n brullende leeu’ op soek na wie hy kan verslind.” Daarom moet die gelowiges waaksaam en nugter wees om hom te kan teenstaan en standvastig in die geloof te bly.  Dit is trouens die lot van alle gelowiges regdeur die wêreld.

Hulle kan egter staatmaak op God se werk, self al sluit dit lyding in, om hulle te herstel, bemagtig, versterk en stewig te vestig.  Hy het die krag om dit te doen en sal die roeping van Jesus Christus in hulle lewens waarmaak.

Boodskap

Daar is min dinge wat ‘n geloofsgemeenskap só in harmonie kan laat funksioneer as die fokus aan die een kant op onderlinge versorging en aan die ander kant op standvastig saamstaan in die geloof.  In dié mate wat ons vir mekaar voorbeelde van standvastigheid in die geloof verskaf, in dié mate versterk ons die band wat ons aan mekaar bind.  Dit is iets wat van leiers gevra word.  Dit is iets wat net soseer van volgelinge gevra word.

Let op dat die teenstand teen die duiwel (diabolos) gevind word in standvastigheid in geloof, persoonlik en in die geloofsgemeenskap.  Só het Paulus dit ook aan die Efesiërs uitgespel: “Staan dan vas, julle heupe omgord met die waarheid, bedek met die borsplaat van geregtigheid en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.  Dra, by dit alles, die skild van die geloof, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus.” (Ef. 6:14-16).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar