Skip to main content

As iemand nie van bo-af gebore word nie

Johannes 2:23–3:36

Drie reaksies op Jesus word in hierdie gedeelte vertel:

  1. Mense wat tot geloof in Hom kom op grond van die wondertekens wat Hy gedoen het – Joh 2:23-25;
  2. Die gesprek wat Nikodemus, die Fariseër en bekende leermeester, met Jesus een nag kom voer het – Joh 3:1-22;
  3. Die getuienis van Johannes die Doper oor Jesus – Joh 3:22-36.

1. Jesus verlaat Hom nie op mense wat glo in “wondertekens” nie – Joh 2:23-25

Jesus het meer wondertekens gedoen as die 7 wat uitgelig word in Johannes se evangelie. Dit wil egter duidelik blyk dat geloof wat op wondertekens gebaseer is, nie standhoudend is nie. Jesus “verlaat” Hom nie op hulle nie.

Die rede vir hierdie mening word later in die evangelie gegee, waar Johannes skryf oor baie van dié mense wat Hom uiteindelik “verlaat”. Baie van sy dissipels het omgedraai en nie meer met Hom saam gegaan nie, toe hulle besef dat geloof iets is wat gegee word, en nie iets wat jy self kan opwek nie (Joh 6:66).

Ons sien hier ook een van die voordele van God se menswording – niemand hoef vir Jesus te vertel hoe mense is nie. Hy weet dit omdat Hy self een is.

2. Jy moet van “bo-af” gebore word – Joh 3:1-22

Nikodemus kom in die nag om met Jesus gesprek te voer. Dit kan wees om uit die oog van die Joodse Raad te bly of net bloot om ’n ononderbroke gesprek te hê. Interessant genoeg, ook oor die wondertekens wat Jesus doen.

Nikodemus sit sy kaarte op die tafel, en sê, God moet by Jesus wees, anders sal Hy nie hierdie wondertekens kan doen nie.

Jesus se antwoord is dat niemand die koninkryk van God kan sien, as hy of sy nie anothen gebore word nie. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik, kan twee betekenisse hê: opnuut of van bo.

  • Dit is uit vers 5 -8 duidelik dat Jesus die woord anothen in die betekenis “van bo” gebruik.
  • Dit is uit Nikodemus se antwoord duidelik dat hy die woord anothen in die betekenis van “opnuut” verstaan.

Jesus se gebruik van anothen wil dus sê, jy kan God en sy koninkryk net sien as jy deur God aangeraak word, as geloof in jou hart deur Hom aangesteek word, as jy kindskap as ’n gawe van Hom ontvang. As jy “van bo-af” gebore word.

Die wedergeboorte

Nikodemus is egter verward met Jesus se antwoord, en vra hoe ’n mens “opnuut”, “’n tweede keer” gebore kan word.

Jesus antwoord Nikodemus dat dit beteken dat benewens die natuurlike geboorte daar ook ’n geestelike geboorte moet wees.

  • Die eerste geboorte is uit water – menslik (sommige interpreteer dit as die doop, maar vers 6 wys dat die natuurlike geboorte is wat met die water bedoel word).
  • Die tweede geboorte is uit Gees – geestelik. Dit doen die Gees in ’n mens se lewe.

Nikodemus sou moes leer om nie langer “van onder” af oor dinge te dink nie, maar “van bo” af.

Paulus brei in die brief aan Titus en Petrus in sy eerste brief hierop uit:

  • Paulus beskryf in Titus 3:5 die wedergeboorte met die Griekse woord palingenesia, en gebruik dit in die sin van die persoonlike vernuwing van ‘n gelowige. Daarvan sê hy, is die doop ‘n teken en word dit bevestig deur die vernuwing van die Gees. Dit impliseer ‘n terugkeer na ‘n vorige volmaakte staat van menswees. Louw en Nida beskryf die betekenis as volg: “to experience a complete change in one’s way of life to what it should be, with the implication of return to a former state or relation—‘to be born again, to experience new birth, rebirth.’
  • Petrus beskryf in 1 Petrus 1:3 ook die wedergeboorte in die sin van ‘n geestelike geboorte. Hy gebruik die Griekse woord anagennaō wat ‘n radikale verandering van persoon in gedagtes en gedrag beskryf.

Jesus sal later op hierdie lering oor die wedergeboorte uitbrei as hy die dissipels se vraag oor die toekoms antwoord:

  • Jesus beskryf in Matteus 19:28 die wedergeboorte in die sin van ‘n kosmiese geboorte wat ‘n nuwe era (‘n nuwe hemel en aarde) sal voortbring by Jesus se Wederkoms. Hy gebruik ook die Griekse woord palingenesia daarvoor.

Hoe is dit moontlik?

Nikodemus se volgende vraag: “Hoe is dit moontlik?” dek dan die tafel vir ’n uitgebreide antwoord van Jesus waarin hy uitbrei oor die raakvlakke tussen God se wêreld en die aardse wêreld wat met mekaar in stryd is:

  • die aardse versus die hemelse;
  • die wat glo versus die wat nie glo nie;
  • die verlorenes versus mense wat die ewige lewe kry;
  • veroordeeldes versus gereddes;
  • die lig versus die duisternis.

En die spilpunt waarom alles draai, is die reaksie op Jesus, die Een wat uit die hemel kom, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Dié wat nie glo nie, bly egter in die duisternis wat hulle verkies.

Die liefde van God

Dit alles word begrond in die liefde van God, die sentrum van die spilpunt, by wyse van spreke. God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis (“verhoog” aan die kruis), omdat Hy ’n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan die verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad. Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

Let op hoe Jesus Nikodemus aanspreek oor hulle verskil oor aardse dinge (Jesus verwys hier na hulle verskil oor die woord anothen wat Nikodemus as “opnuut” en Jesus as “van bo” verstaan), wat beteken dat dit byna onmoontlik raak om oor hemelse dinge te praat .

Die einde van die gesprek word nie vir ons vertel nie. Ons lees egter dat Nikodemus hierna vir Jesus opkom in die Joodse Raad (Joh 7:50), en die mengsel van mirre en aalwyn voorsien om Jesus se lyk mee te balsem (Joh 19:39). Dit maak dit waarskynlik dat hy ’n gelowige word, een van die weiniges uit die skare van wondergelowiges.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

3. Hy moet meer word en ek minder – Joh 3:22-26

Jesus en sy dissipels is nou terug in die platteland in Judea waar hulle soos Johannes die Doper mense doop (Jesus het nie gedoop nie – 4:2). Johannes die Doper tree by Enon naby Salim op.

Die woordewisseling tussen Johannes die Doper en ’n Jood oor die effektiwiteit van Johannes die Doper se bediening (die reiniging) gee Johannes die Doper die geleentheid om die kollig te laat val op die meerdere waarde van Jesus se bediening as dit met sy eie vergelyk word.

Johannes vertel dan ’n kort gelykenis om die verskil tussen hom en Jesus as dieselfde tussen die vriend van die bruidegom en die bruidegom self te verduidelik. Sy bediening word dus oortref en vervang deur dié van Jesus. Hy moet meer word, en ek minder. Selfs in terme van Johannes se eie bediening.

Die bediening van Bo af (vers 31 – onthou dieselfde gedagte wat in die gesprek met Nikodemus op die voorgrond was) gee toegang tot die ewige lewe wat God aan elkeen gee wat in die Seun glo.

Johannes sluit met ‘n opsomming wat die boodskap van hoofstuk drie vasvat:

36Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar