Skip to main content

Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig

4782847Oordeel en verlossing

Twee motiewe domineer hoofstuk sewe se verhaal van die vloed – oordeel en verlossing.

Aan die een kant is dit duidelik dat die Here nie net ernstig is in sy voorneme om: “alles wat leef, wat Ek gemaak het, weg (te) vee van die aarde af,” nie.  Nee, Hy voer uit wat Hy Hom voorneem: “Al wat op die aarde geleef het, het omgekom …  So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis.”  Daar is ‘n tragiese onafwendbaarheid aan die oordeel van God oor die ongehoorsaamheid van die mens.  Selfs die aarde en die ander skepsels wat God gemaak het, moet dit in die proses ontgeld.

Aan die ander kant is dit net so duidelik dat die Here ernstig is in sy voorneme om Noag en ‘n oorblyfsel van mens en dier genadig te wees, “om Noag en dié by hom in die ark te spaar”.  God sien vir Noag raak en bevind Hom regverdig.  Daarom verlos Hy Hom van die oordeel wat kom saam met sy mense.  Interessant genoeg is dit juis die ark wat Noag bou, in gehoorsaamheid aan die Here, wat die instrument is wat God kies om vier gesinne en ‘n seleksie van diere en voëls te spaar, sodat daar ‘n nuwe begin met hulle gemaak kan word.  God span Noag en sy vakmanskap dus volledig in binne die uitweg wat Hy vir hom en die toekoms van die mensdom op aarde verskaf.

God straf die sonde, maar Hy voorsien ook altyd ‘n uitweg vir dié wat van Hom afhanklik leef.  Dít is die prentjie van God wat hierdie verhaal van Noag in elke detail daarvan onderstreep.  Dit is ook die spits van die boodskap wat ons uit hierdie verhaal moet hoor.  God kan vertrou word dat Hy sal optree teen ongehoorsaamheid.  Hy kan egter ook vertrou word dat Hy ‘n uitweg uit die oordeel sal verskaf, vir dié wat met Hom wandel.

Werklike verhaal met werklike mense

Let op dat dié verhaal steeds as ‘n werklike verhaal met werklike mense vertel word.  Vyf keer sal daar in hoofstuk 7-8 presiese datums gegee word vir die verskillende stadiums van die vloed.  “Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek.” (Gen. 7:11; vgl. ook 8:4,5,13,14).

Die ooreenkomste met ander vloedverhale – veral die verhaal van Utnapisjtim in die Epos van Gilgamesj – is duidelik.  Die wêreldwye karakter van die vloed, die ark wat gebou is, die voëls wat ook in die ark opgeneem word, en later selfs die offer wat Noag bring, kom sterk ooreen met die ander antieke tradisie.

Maar, dit is ook net so duidelik dat dit verskillende verhale is op die meeste ander punte, soos ek vroeër al aangedui het.  God se besluit om die vloed te stuur, word soewerein sonder enige inspraak geneem, terwyl daar ‘n hele vergadering van gode nodig is in die Epos van Gilgamesh om die besluit te neem.  God is regverdig in sy hantering van die mens, deurdat Hy nie almal onder een kam skeer nie, maar die regverdige Noag red, terwyl dit ‘n ander god is wat téén die besluit van die meerderheid vir Utnapisjtim red.  Noag doen net wat God sê, en is andersins stil, terwyl Utnapisjtim as ‘n knap en kreatiewe persoon geteken word.  Noag bly ‘n mens, terwyl Utnapisjtim ‘n god word.

Die fonteine van die groot waters het oopgebreek

Die bron van die vloedwaters wat die aarde verswelg het, word op twee maniere beskryf.  Aan die een kant het daar ‘n groot stortreën vanuit die hemel gekom.  Aan die ander kant het die fonteine van die “groot waters” – die téhom of “diepte” – oopgebreek.  Dit is die groot bron van ondergrondse water wat van die bogrondse water – die water bokant die “gewelf” volgens die antieke wêreldbeskouing – met die skepping geskei is (Gen. 1:2,6).

Die verhaal van Noag teken dus ‘n prentjie van ondergrondse water wat uitbars bo die aarde en die aarde na sy vorige staat – omring deur water – verander.  Die skepping word as’t ware omgekeer. Die sondvloed is dus nie net ‘n soort vloedwater wat mens met tsunami’s sou verbind nie, maar ‘n omvattende verswelging van alles wat leef en beef op aarde.  Dit help ‘n mens ook verstaan dat die latere belofte van God in Genesis 9 dat daar nie weer oorstromings van dié aard sal wees nie, nie met plaaslike oorstromings te make het nie, maar met ‘n wêreldwye bedekking met water.

In dié verband was dit vir my ongelooflik interessant om in die toonaangewende Science tydskrif te lees van ‘n magtige ondergrondse oseaan wat naby die aarde se kern ontdek is deur ‘n groep Amerikaanse geofisici.  Hulle bevindinge dui op ‘n reservoir van water in ‘n laag blou rots 400-700 km diep wat drie keer meer as die gekombineerde volume van al die oseane van die aarde saam is.  Jy kan dit nagaan in die artikel “Dehydration melting at the top of the lower mantle” (Science 13 Junie 2014: Vol. 344, Uitgawe 6189, bl. 1265-1268.  Brandon Schmandt, Steven D. Jacobsen, Thorsten W. Becker, Zhenxian Liu, Kenneth G. Dueker – registreer gratis, dan kan jy die artikel lees).

Dié bevinding maak dit ten minste teoreties moontlik dat die vloed van Genesis werklik wêreldwyd kon wees.  Uiteraard sou dit steeds ‘n bonatuurlike ingrype moes wees, hoewel ek steeds nie dié Bybelse gegewens met die argeologiese en geologiese bevindinge kan rym nie.  En die verhaal maak in elk geval genoeg sin in terme van die boodskap van oordeel en verlossing en ‘n nuwe begin wat God met die mensheid aanpak … maar ek sou graag meer wou weet van die wyse waarop die argeologie en geologie by hulle bevindinge uitkom.  Miskien is daar lesers wat meer weet hiervan …!

Twee-twee word mens en dier gered

Dit is merkwaardig hoe pertinent die binêre karakter van menswees sowel as dieselfde binêre karakter van die dierewêreld beklemtoon word in die feit dat alle lewende wesens in pare, twee-twee, die ark moet binnegaan.  Dit word eintlik tot vervelens toe genoem in dié hoofstuk.  Selfs Noag en sy drie seuns gaan met hulle vier vrouens die ark binne.  Ook die onrein diere en kruipende diere word in pare toegelaat.  Dit stel onomwonde die fundamentele waarheid van alle lewende wesens dat hulle manlik en vroulik geskape is, sonder uitsondering.  Daarsonder sou vrugbaarheid en vermeerdering immers onmoontlik wees.

Dat seksuele gedrag onder mense en diere anders kan wees as hulle geskape binêre samestelling, is natuurlik ook so.  Maar, dit kan nooit enige verandering bring aan die feit van hulle manlike en vroulike kenmerke nie.  Dat daar soms mutasies is waarin dié kenmerke op een of ander manier saam voorkom in ‘n individu, bv. in hermafrodiete, maak nie dié fundamentele binêre kenmerke van alle meersellige lewende wesens (eukariotes vir die tegniese siele onder ons!) tot niet nie.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar