Vraag 34: Kan jy deur die wet of goeie werke gered word?

1. Kan jy deur die wet of goeie werke gered word?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Nee, alles wat nodig is vir my verlossing en heiliging word in Christus gevind. Hy is die enigste Verlosser en Saligmaker.Ek kan nie deur die wet of goeie werke gered word nie, aangesien dit die verlossing wat Christus vir my gee, sal verloën.

3. Lees Paulus se verduideliking waarom die wet of goeie werke ons nie kan red nie in Galasiërs 5:13-26. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Dié wat aan Christus behoort, se leefstyl word deur die Gees bepaal

Die wet kan ons nie red nie. Selfs nie goeie werke nie. Dit word maklik soos ’n tronk waaruit ons nie kan ontsnap nie. Dit is net die Gees wat ons kan help teen die begeertes van ons sondige geaardheid. As ons deur die Gees gelei word, is die wet nie meer ons baas nie. Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, keer dat ons deel het aan God se koningsheerskappy. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het egter die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

5. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 24-25. Dink na oor die betekenis van heiligmaking en goeie werke vir jou.

ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil. 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `…wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen’ (Luk. 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Fil. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6-7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab. 2:4.

DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Ons gereformeerde vaders het groot insig en wysheid gehad toe hulle die belydenisskrifte opgestel het.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: