Skip to main content

Vraag 34: Kan jy deur die wet of goeie werke gered word?

1. Kan jy deur die wet of goeie werke gered word?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Nee, alles wat nodig is vir my verlossing en heiliging word in Christus gevind. Hy is die enigste Verlosser en Saligmaker.Ek kan nie deur die wet of goeie werke gered word nie, aangesien dit die verlossing wat Christus vir my gee, sal verloën.

3. Lees Paulus se verduideliking waarom die wet of goeie werke ons nie kan red nie in Galasiërs 5:13-26. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Dié wat aan Christus behoort, se leefstyl word deur die Gees bepaal

Die wet kan ons nie red nie. Selfs nie goeie werke nie. Dit word maklik soos ’n tronk waaruit ons nie kan ontsnap nie. Dit is net die Gees wat ons kan help teen die begeertes van ons sondige geaardheid. As ons deur die Gees gelei word, is die wet nie meer ons baas nie. Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, keer dat ons deel het aan God se koningsheerskappy. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het egter die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

5. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 24-25. Dink na oor die betekenis van heiligmaking en goeie werke vir jou.

ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil. 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `…wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen’ (Luk. 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Fil. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6-7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab. 2:4.

DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda